News

Nog nie antwoord op beurtkrag-stryd

Voorkeur-hofdatum en regter moet nou toegewys word

Hoewel daar vandag (6 Augustus) nog geen uitsluitsel was oor of Parys se beurtkrag-stryd sal einde kry nie, het regter Collis bevind dat die Vaal River Development Association (VRDA) se hofaansoek aan ‘n regter toegedeel moet word, en ‘n voorkeurdatum van die regter-president aangevra moet word vir die aanhoor van die saak. Dit weens die kompleksiteit daarvan,  en die argumente van beide partye wat te lank duur.

Volgens Lou van Wyk, prokureur van rekord in die saak, bestaan die moontlikheid dat die VRDA se saak dalk reeds op 18 Augustus gehoor sal word, saam met die saak van die Lekwa Munisipaliteit (Standerton) wat op dieselfde beginsels teen Eskom gebring is.

Die VRDA se aansoek teen Eskom, die Ngwathe Munisipaliteit, die nasionale elektrisiteitsreguleerder Nersa, die Vrystaatse premier, die LUR vir COGTA, en die minister van energiesake, om ‘n stokkie te steek voor wat gesê word Eskom se eensydige afdwinging van daaglikse rotasie beurtkrag vir Parys is, handel naas die beurtkrag ook met Ngwathe se aansoek vir die verhoging van sy sogenaamde maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening, of te wel die Notifyable Maximum Demand (NMD) wat tot dusver volstrek deur Eskom geweier is.

Daar is tydens vandag se virtuele hofsitting van die Hoë Hof in Pretoria, hoofsaaklik gehandel met die dringendheid van die aansoek aldan nie, en nog nie met die meriete van die onderskeie partye se argumente nie.

Adv. Danie Wijnbeek het namens die VRDA aangevoer dat die besluit rondom die instel van gedwonge munisipale beurtkrag gedoen is sonder dat die publiek vooraf ingelig is, en dat daar geen publieke deelnameproses was soos wat normaalweg mee gehandel word met die sogenaamde PAJA-proses nie.

Daar is ook gewag gemaak van die impak wat daaglikse rotasie beurtkrag het op die funksionering van noodsaaklike munisipale dienste soos die rioolwerke en waterwerke, met spesifieke verwysing na die rioolstorting in die Vaalrivier wanneer rioolpompe tot stilstand gedwing word deur knaende beurtkrag.

So ook die Parys Distriks hospitaal wat ‘n belangrike diens moet lewer tydens die Covid-19 pandemie, en ook nou deur daaglikse beurtkrag geraak word.

Adv. Wijnbeek het daarop gewys dat die enorme impak van die daaglikse beurtkrag toepassing in Parys eers werklik in Julie gevoel is nadat meer besighede in bedryf gekom het tydens die inperkingsperiode, en bittere koue temperature hoër kragverbruik meegebring het. Daarmee saam is die situasie vererger deur landwye Eskom beurtkrag wat gesamentlik met munisipale beurtkrag toegepas is. Veral mense wat van  lewensondersteunende toestelle afhanklik is, is swaar getref.

Eskom pas tans ‘n limiet van 21MVA toe terwyl die munisipaliteit se behoefte sedert die NMD-ooreenkoms bykans ‘n dekade gelede, vergroot het tot 25MVA. Volgens Eskom kan Ngwathe se aansoek om verhoging van die NMD nie outomaties goedgekeur word nie omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer, en Eskom nie tevrede is dat die destyds aanvaarde afbetalingsplan deur Ngwathe nagekom word nie.

‘n Gewysigde afbetaalplan is in Desember 2019 deur Ngwathe se hoof finansiële beampte aan Eskom gestuur, wat nie deur Eskom afgekeur is nie, maar ook nie goedgekeur is nie. Gevolglik het Ngwathe Eskom se swye as aanvaarding van die plan vertolk, en dienooreenkomstig sy betaling gemaak.

Hoewel daar tussen 2011 en 2019 aanmanings van Eskom se kant was dat Ngwathe sy skuld wat nou reeds R1,3 miljard beloop, moet betaal, en die hof by twee geleenthede in die verlede verhinder het dat Ngwathe se krag afgesny is, was daar nog nooit verdere aksie deur Eskom teen Ngwathe geneem nie.

Die hoofoorsaak van die huidige daaglikse munisipale rotasie beurtkrag in Parys en Vredefort het juis ontstaan uit Eskom se weiering om meer krag aan die munisipaliteit te voorsien as waarop in 2008 ooreenkom is. Sou Ngwathe sy ooreengekome MVA oorskry skakel Eskom sy enkele werkende transformator by die Eskom substasie in Parys af om die transformator teen oorlading te beskerm. Om die ander beskikbare Eskom-transformator te herstel sal R16 miljoen kos wat die kragreus aangedui het nie gedoen sal word alvorens Ngwathe sy skuld betaal nie.

Die beginsel van Eskom om sy toerusting teen oorlading te beskerm word ook nou in ander dele van die Vrystaat toegepas waar kragverbruik die maksimum ooreengekome hoeveelheid oorskry.

Eskom het  in sy teenargumente vandag bevraagteken waarom die Vaal River Development Association nie reeds vroeër aksie geneem het na ‘n hofbevel in 2014 reeds teen die munisipaliteit toegestaan is nie, en daar ook volgens die kragreus geen dringendheid in die aansoek is voor die Hoë Hof nie,

Verder is ook geargumenteer dat slegs 5% van krag inderwaarheid gesny word, terwyl die VRDA aanvoer dat die dorp met 23% minder krag moet klaarkom per dag wat besighede lam lê met ook selfoonnetwerke en watervoorsiening wat vir ure geraak word,  en inwoners se regte wat strydig met die grondwet, aangetas word.

Die taakspan wat deur die munisipaliteit in die lewe geroep is om die Eskom-krisis aan te spreek, kon tot dusver nog weinig vordering maak in sy samesprekings met Eskokm oor die verhoging van Ngwathe se NMD.

Vandag se hofaansoek is deur die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en die Parys Gemeenskapsaksie gesamentlik onder die vaandel van die Vaal River Development Association (VRDA) gebring. 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button