NewsNews

Ngwathe-Eskom samesprekings vorder min

Ngwathe-Eskom samesprekings vorder min

Die Ngwathe-Eskom Taakspan en senior bestuur van Eskom het verlede week weer twee keer vergader om Parys (en Vredefort) se kragprobleme te probeer bylê, maar min vordering is gemaak.

Volgens Vryheidsfront Plus raadslid, Phillip van der Merwe, wat in die Taakspan dien, volstaan Eskom daarby dat geen verhoging van die maksimum aanvraag vir krag, die sogenaamde NMD, wat aan enige dorp in Ngwathe gelewer word, tans oorweeg sal word nie.

Eskom se prioriteite is tans tweeledig. Eerstens om Ngwathe sover te kry om in Eskom se huidige finansiële jaar minstens sy maandelikse verbruiksrekening elke maand ten volle te betaal. Tweedens om Ngwathe se enorme agterstallige kragskuld te probeer invorder.

Vordering is wel tydens die onderhandelinge gemaak in die sin dat die partye ooreengekom het dat enige moontlike betalingsplan in twee fases hanteer moet word. Gedurende fase een, genoem die Covid-19 Fase wat tot Maart 2021 duur, sal Ngwathe nie verplig word om enige agterstallige skuld te betaal nie, maar sal volgens Eskom se vereiste wel maandeliks voluit moet betaal vir alle verbruik.

Vanaf Maart 2021, wanneer fase twee begin, vereis Eskom dat Ngwathe, buiten om sy volle verbruiksrekening gereeld te betaal, ook substansieel aan sy skuld sal begin afbetaal.
Ngwathe se pleidooi dat Eskom die invloed van die Covid-19 pandemie, wat ‘n drastiese en enorme effek op sy inkomsteverhaling het, tans in ag moet neem, val op dowe ore. So ook die aandrang dat Parys (en Vredefort) se NMD verhoog moet word sodat die skade wat die huidige verpligte rotasie kragbeperkings meebring, verlig kan word.
Eskom volstaan daarby dat die pandemie vir hom ook sy eie kontantvloeiprobleme meebring, wat dit onmoontlik maak om meer genaakbaar te wees teenoor die talle munisipaliteite wat tans nie in staat is om hulle kragskuld te betaal nie.

Beide partye is dit ook eens dat Ngwathe waarskynlik nooit sy skuld, wat reeds bykans R1,3 miljard beloop, uit eie fondse sal kan betaal nie, maar dat ingryping en hulp vanaf provinsiale of nasionale kant vir betaling daarvan verkry sal moet word. Ngwathe sal gevolglik nou by beide provinsiale en nasionale tesourie aansoek doen vir bystand en Eskom sal sy steun aan die pogings verleen.

Intussen bly die onderhandelinge in skaakmat, hangende die uitslag van die hofaansoek wat die Vaal River Development Association (Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum saam met Parys Gemeenskaps Aksie) vandag, Donderdag 6 Augustus, teen onder meer Eskom sal bring.

 

Lees ook: https://www.citizen.co.za/parys-gazette/40803/hof-moet-se-oor-…-beurtkrag-stryd/ ‎

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button