News

Kiewiete nie meer met krummels tevrede nie

Kiewiete nie meer met krummels tevrede nie

“Kom! Kom! Kom!” roep Annalize Reiners twee kiewiete nader wat ‘n ent in die oop veld naby die Miederpark Engen vulstasie rondstaan.

Wanneer hulle haar stem hoor, kyk hulle vinnig na mekaar. So asof hulle eers toestemming by mekaar wil kry, voor hulle flink oor die teerpad trippel na waar sy die meelwurms in haar hand vir hulle uithou.

By hulle is daar nie sprake van enige inkennigheid nie. Hulle peil op haar af, pik gulsig die wurmpies op en steur hulle nie eens aan die vreemde mense wat om hulle rondstaan om te kyk hoe hulle gevoer word nie.

Annalize het begin om die kiewiete met meelwurms in plaas van broodkrummels te bederf.

Wanneer die wurmpies op is, raak hulle nogal ewe parmantig en pik speels haar vingers raak wanneer sy haar leë hand vir hulle uithou. Annalize is ‘n werknemer by die vulstasie se winkel wat besluit het sy gaan dié geveerde vriendjies bietjie bederf.

Een van haar kollegas, Shadrack Kadisa, het drie jaar gelede al begin om ou broodkrummels vir die voëltjies voor die winkel se deur te gooi. Hulle het hulle nie twee keer laat nooi nie en later sommer voor die deur begin skree wanneer die krummels volgens hulle nie betyds genoeg gestrooi word nie.

So ‘n jaar gelede besluit Annalize toe dat sy hulle met meelwurmpies gaan bederf en sedertdien is dié voëltjies nie meer met krummels tevrede nie.

“Dis wurms of niks nie,” vertel Annelize met ‘n glimlag. Dié voëltjies word elke dag bederf en wanneer Annalize nie by die werk is nie, moet ander personeel instaan om die wurmpies te voer.

As dit nie gebeur nie, protesteer hulle met hulle harde kraakstemme voor die winkeldeur. Voëls het mos ook regte.

Dié kiewiet is honger en kom roep Annalize by die winkeldeur.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button