DA-raadslede in Parys het vandeesweek ‘n aksie geloods om rommel in Parys se sakekern te help opruim, veral voor en gedurende naweke. “Dis wanneer mense veral mors,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel.”
Leë blikkies, los papier, plastieksakke, bottels – selfs vuil gesigsmaskers lê oral rond – by winkeldeure, op sypaadjies en in watervore.
Veral Middelstraat vanaf Absa tot by die Poskantoor is bemors, maar ook Kortstraat vanaf Palm Court tot by die taxi-staanplek. So ook dele van Philip-, Buiten- en Dwarsstraat agter Choppies.
“Ons beloof dit gaan hierdie naweek beter lyk, want ons het gister begin met opruiming,” sê Arnold.
DA-rdl Andries Vrey (wyk 12) sê dat Breëstraat skoner is omdat sommige eienaars self voor hulle ondernemings skoonmaak. Hy sê dit gebeur egter nie oral nie.
Daar sou nou ook gevra word dat die munisipaliteit hand bysit, want sakeondernemings het alle moontlike hulp nodig juis nou in baie uitdagende ekonomiese tye, sê die DA..