News

Bring die Oros en kom sit ’n worsie op die kole

Jy’s genooi!

Is jy ook lus vir ’n stukkie wors op die kole en wegkom van jou huis se grendelmure? Hier’s jou kans!
Parys Dames Besigheidsklub-lede bring dié naweek Parys se sakelui en inwoners bymekaar met ’n dankie sê Wors-en-Oros braai – en jy’s genooi.
Bring jou masker, jou hele familie, jou braaier en piekniekmandjie en wees deel van die jolige sypaadjiebraai met ’n ‘twist’op Saterdag, 8 Augustus, op die vooraand van Vrouedag, in die hoofstraat van Parys vanaf 15:00 tot net voor 22:00.

Alle inperkingsregulasies sal streng gehoorsaam word – moet daarom nie jou masker vergeet nie, en sosiale afstand moet te alle tye gehandhaaf word.
Die hoofstraat sal nie vir die braai gesluit word nie, maar daar sal langs die hoofstraat afgemerkte toegewysde areas op die parkering en sypaadjies wees waar mense met die nodige sosiale afstand kan braai en sommer net bietjie kan uitkom. Jy sal by die huis wees voor die aandklokreël geld.

Die hele idee agter die sakevroue se braai-idee is om net vir ’n oomblik grendel-griewe en kommer-plooie opsy te skuif en weer ’n slag te kuier soos net Parynaars kan. ’n Regte dorpsbraai om dankie te sê vir almal wat tydens grendeltyd essensiële dienste moes verrig, in besonder die polisie, nooddienste en die munisipaliteit. Almal wat ’n positiewe bydrae gelewer het tot die dorp en sy mense, veral nou tydens die Covid-19 pandemie. Sien jou Saterdag by die braai!

Vir navrae en meer inligting kan jy die klubsekretaresse, Sonette Pienaar, by 079 167 9169 skakel.
* Die Parys Dames Besigheidsklub bestaan uit sakevroue van Parys wat innoverende bemarkingsgeleenthede reël en ook nou weer besoekers in die dorp wil terugverwelkom. Hulle is bekend as “We do deals in heels” en sê dat hulle enige voorstelle van besigheidseienaars, inwoners en besoekers aan die dorp verwelkom.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button