NewsNews

Vredefortdam – ’n voëlkykparadys

Vredefortdam - ’n voëlkykparadys

Vredefort het geen bekendstelling onder natuurliefhebbers nodig nie – 4×4 roetes, voetslaanpaaie en vinnige stroomversnellings is van die aktiwiteite wat mense na die Vredefort Koepel lok.
As jy dan verder kyk, sien jy ook ons geveerde natuur raak – die ryk voëllewe. Jy hoef nie diep in die Koepel na hulle te gaan soek nie. In Vredefort se woongebied is daar ‘n dam wat ryk is aan voëllewe met verskeie voëlspesies – ‘n plek wat altyd die moeite werd is om te besoek.
Geduld en ‘n goeie verkyker is twee belangrike items wat ‘n voëlkyker moet hê. ‘n Goeie tyd van die dag om van die spesies te sien is natuurlik vroegoggend. ‘n Mens gaan nie net dam toe en al die voëls sit vir jou op die wal en wag nie. Nee, jy moet vir hulle wag! Sommige spesies is baie skaam voëls en geduld is baie belangrik.
Sekere tye van die jaar is daar minder voëls – soos in die winter – en dan van vroeg lente af is daar sommer baie aktiwiteite in en om die dam wanneer die somerbesoekers begin terugkeer, en die standvoëls (voëls wat heel jaar in die omgewing bly) begin nes maak.
Spesies wat gereeld by die dam gesien sal word (standvoëls) ongeag die seisoen, is eende, bleshoenders, reiers, duikers, klein dobbertjies, lepelaars en visvangers.
‘n Belangrike faktor is die watervlak van die dam. Baie van die watervoëls soos die flaminke en ruiters hou daarvan om in baie vlak water te wei. As die dam te vol is gaan soek hul ander weivelde met laer watervlakke soos Inlandsee waar die meteoriet duisende jare terug geval het.


Daar is reeds nagenoeg 130 verskillende spesies by die Vredefort-dam aangeteken. Dit sluit water- en grasveldspesies, vlieënde insekvangers en roofvoëls in wat nou en dan hul opwagting maak.
Van die skaars voëls is die volgende al daar gesien: Goudsnip (Greater Painted-snipe), Grootkoningriethaan (African Purple Swamphen), Afrikaanse Riethaan (African Crake), Grootriethaan (African Rail) en die Kuifkopdobbertjie (Great Creasted Grebe), om maar net ‘n paar te noem.
Pak gerus ‘n mandjie, jou verkyker en voëlgids op ‘n lekker somersoggend en gaan dam toe. Jy kan tot 40 verskillende spesies op ‘n oggend sien. Hierdie dam met sy groot voëlskat moet bewaar word. Vir navrae oor Feathers Voëlklub en hul aktiwiteite na die grendeltyd, skakel Hansie Bekker by 082 820 4306 of (056) 811 4754, of Peter Killian by 083 625 8100.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button