NewsNews

Potchefstroomse jeugromanskrywer stel eerste boek in ‘n reeks bekend

Neem deel aan die boekkompetisie aan die einde van die artikel en wen Jungu Josh: Die Goue Kalbas – Constant van Graan se eerste gepubliseerde jeugroman

Constant van Graan, ‘n Potchefstroomse skrywer, het onlangs sy eerste boek, Jungu Josh: Die Goue Kalbas, vrygestel. Dit is sy eerste jeugroman in ‘n reeks van drie. Sy tweede boek verskyn in September en hy is tans besig om aan die derde boek te werk.

Dié nuwe jeugromanskrywer is ‘n senior lektor in forensiese rekenmeesterskap aan die Noordwes-Universiteit. Nie juis ‘n beroep wat mense met kreatiewe skryfkuns assosieer nie, maar volgens Constant is forensiese rekenkundiges juis kreatief.

“Die interessante ding van forensies is dat dit nogal kreatiwiteit verg om ondersoeke te beplan en uit te voer,” sê hy.

Vir iemand wat nie ‘n formele kursus in skryfkuns voltooi het nie, het Constant ‘n besonderse skryftalent. Hy het dit van vroeg af begin oefen – opstelle op skool en kortverhale op universiteit wat in bundels gepubliseer is.

“Hoewel niemand in my familie gepubliseerde skrywers is nie, is my ma en ouma albei Afrikaanse onderwyseresse en lief vir letterkunde. Hulle het die skryfsaadjie by my geplant,” vertel Constant.

Hy het in Windhoek, Namibië grootgeword en het sy hoërskoolloopbaan aan Windhoek Hoërskool voltooi. As hy nie ‘n gereelde koerantleser was nie, sou hy dalk nie in Potchefstroom beland het nie.

Hy het sy lewe eers anders beplan, maar die spontaneïteit van sy skrywersgees het hom van plan laat verander: “Ek was aanvanklik op pad Stellenbosch toe om regte te studeer, toe ek in matriek op ‘n dag in ‘n Sondagkoerant van forensiese rekeningkunde gelees het. Dit was ‘n splinternuwe kursus wat die Pukke sou aanbied en toe ek weer sien, is ek op pad Potch toe,” sê hy.

Die titel van sy eerste boek is misterieus en hy wil self nie te veel daaroor verklap nie. Volgens hom is ‘Jungu’ ‘n woord in die fiktiewe Magani-taal wat hy vir die reeks geskep het. “Ek wil nie te veel weggee oor die betekenis nie, want dit is nou verweef met die storielyn. “Die leser sal vinnig agterkom dat Josh, die hoofkarakter, sal moet aanvaar dat hy ‘n jungu is as hy wil oorleef…”

Die jeugroman, Jungu Josh: Die Goue Kalbas wat twee gelukkige wenners van die kompetisie kry.

Constant is darem bereid om bietjie meer oor die storielyn te vertel. Die hoofkarakter, Josh (13), woon by sy tannie Verona en haar gesin op ‘n plaas in Oos-Afrika nadat sy ma verdwyn het. Op ‘n dag word hy na Kalimbula, ‘n geheime vallei, weggevoer waar hy die wyse man, Ngandu, moet opspoor. Nie net kan Ngandu hom help met antwoorde oor sy ma se verdwyning nie, maar Josh kry ‘n opdrag om die goue kalbas te vind. Met die hulp van ‘n 15-jarige meisie, Njeri, trotseer hy vreesaanjaende diere en die bose professor op pad na die waarheid.

Die Jungu-reeks is gemik op 11 tot 13- jariges, maar daar is eintlik geen ouderdomsbeperking op ‘n jeugroman nie en Constant hoop dat ‘n verskeidenheid ouderdomsgroepe sal wil saamlees. “Daar is maar net iets aan jeugverhale! Ek dink dit het te doen met die feit dat die lesers hulle volkome oorgee aan hul verbeelding, wat oneindige moontlikhede vir nuwe stories gee.”

Constant kry deesdae min tyd vir lees, maar as hy wel die tyd kry, lees hy self graag jeugverhale. “Ek geniet jeugverhale soos Miss Peregrine’s Home for Peculiar Children van Ransom Riggs en klassieke werke soos The Chronicles of Narnia van CS Lewis en Roald Dahl se kortverhale. Een van my gunstelingskrywers is Neil Gaiman wat The Truth is a Cave in the Black Mountains en Coraline geskryf het – dit is meesterstukke!”

Boekkompetisie – Jungu Josh: Die Goue Kalbas

Constant en NB-Uitgewers gee ‘n gratis boek aan ‘n gelukkige leser wat die maklike vraag hieronder kan beantwoord.

Die Herald sal die name van al die deelnemers in ‘n hoed gooi en ‘n gelukkige wenner trek. ‘n Foto van die wenner word die week daarna in die Herald geplaas en sal ‘n getekende boek ontvang.

Vraag: Wat is die naam van die geheime vallei? (Die antwoord is in die berig).

Hoe om deel te neem:

  • Skep ‘n e-pos met “Jungu Josh boekkompetisie” in die onderwerp.
  • Tik jou naam, van en selfoonnommer, asook die antwoord op die vraag in die boodskapgedeelte van die e-pos.
  • Stuur die e-pos aan: venessa.vdwesthuizen@media24.com
  • Sluitingsdatum van kompetisie: Sondag, 8 Augustus om 17:00.

https://potchefstroomherald.co.za/75878/potchefstroomse-jeugromanskrywer-stel-eerste-boek-in-n-reeks-bekend/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button