News

Vergeet van grendel-griewe en bring jou wors en Oros

Vergeet van grendel-griewe en bring jou wors en Oros

Is jy ook lus vir ’n stukkie wors op die kole en wegkom van jou huis se grendelmure? Hier’s jou kans!

Parys Dames Besigheidsklub-lede het Maandagoggend vinnig weer blad geskud nadat grendeltyd almal uitmekaar laat spat het. Die afgelope paar maande het besighede letterlik tot stilstand geruk en almal het noustrop getrek, maar sê die dames – dit is tyd om Parys se inwoners en sakelui bymekaar te kry.

En hoe doen ons plattelanders dit die heel beste – ons braai! “’n Proudly Parys braai!” Een met ‘twist’ – ’n Wors-en-Oros braai.

Bring jou masker, jou hele familie, jou braaier en piekniekmandjie en wees deel van die straatbraai op Saterdag, 8 Augustus, so op die vooraand van Vrouedag, in die hoofstraat van Parys vanaf 15:00 tot 21:00.

Alle inperkingsregulasies sal streng gehoorsaam word – moet daarom nie jou masker vergeet nie, en sosiale afstand moet te alle tye gehandhaaf word. Onthou ook dat teen 21:00 almal weer tuis sal wees voor die aandklokreël geld.

Die hele idee agter die sakevroue se braai-idee is om net vir ’n oomblik grendel-griewe en kommer-plooie opsy te skuif, en weer ’n slag te kuier soos net Parynaars kan. ’n Regte dorpsbraai.

Hou volgende week se Gazette dop vir meer inligting en kry solank jou wors en Oros reg. Vir navrae en meer inligting kan jy die klubsekretaresse, Sonette Pienaar, by 079 167 9169 skakel.

* Die Parys Dames Besigheidsklub bestaan uit sakevroue van Parys wat innoverende bemarkingsgeleenthede reël en ook nou weer besoekers in die dorp wil terug verwelkom.. Hulle is bekend as “We do deals in heels” en sê dat hulle enige voorstelle van besigheidseienaars, inwoners en besoekers aan die dorp verwelkom.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button