NewsNews

Munisipaliteit word ondersoek vir misbruik van Covid-19-fondse

Munisipaliteit word ondersoek vir misbruik van Covid-19-fondse

Die Provinsiale Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (SKOOR) gaan die JB Marks Munisipaliteit aankla van minagting van die wetgewer en die finansiële verslag wat JB Marks aan hulle voorgelê het, na die spesiale ondersoekeenheid vir Covid-19-aangeleenthede verwys.

So sê Job Dlito, voorsitter van SKOOR, nadat afgevaardigdes van JB Marks verlede Woensdag, 22 Julie met SKOOR vergader het om hul finansiële verslag, (Maart – Junie 2020) van Covid-19-bestedings, voor te lê.

Freddy Sonakile, DA woordvoerder vir Noordwes oor provinsiale openbare rekeninge wat by die vergadering teenwoordig was, sê dit was die derde keer dat JB Marks oor hul finansiële verslag aangespreek is. Hy sê dat die munisipaliteit met hul eerste vergadering in Meimaand geen finansiële verslag gehad het nie. Met die tweede vergadering was die verslag onvolledig en met die derde vergadering is ongerymdhede uitgewys.

Sonakile sê Tumisang Moeketsane, die hoof finansiële beampte van JB Marks, het die verslag voorgelê nadat die munisipale afgevaardigdes moes verskoning maak vir die munisipale bestuurder wat na bewering nie kon praat nie omdat sy stembande aangetas was.

“Die munisipaliteit se voorlegging was vol teenstrydighede en onreëlmatighede en hulle het die vrae baie onduidelik beantwoord,” sê Sonakile. JB Marks het aangedui dat hulle tot op hede R14 miljoen op Covid-19-uitgawes spandeer het, terwyl die provinsiale tesourie aangedui het hulle uitgawes het sover R47 miljoen beloop.

SKOOR het veral baie vrae gehad oor die grootskaalse verkryging van beskermende toerusting van Batseba Holdings, ‘n kontrakteur wat saniteerders, maskers, handskoene en gesigskerms aan die munisipaliteit verskaf het. Batseba Holdings vorm nie deel van nasionale tesourie se databasis van verskaffers nie. Die verskaffers op die databasis het ingestem om Covid-19-goedere teen onderhandelde pryse te lewer.

Tydens die vergadering is vrae gevra waarom JB Marks 990 liter handsaniteerder teen R750 per liter by Batseba Holdings aangekoop het, terwyl ‘n ander maatskappy R117 per liter kwoteer het.
Die munisipaliteit se verweer was dat slegs Batseba Holdings op daardie tydstip saniteerders in voorraad gehad het, terwyl die ander verskaffers uit voorraad was. Die munisipaliteit kon ook nie sê presies wanneer die saniteerders aangekoop is nie.

De Wet Nel, ‘n komiteelid van SKOOR, het ook die groot hoeveelhede beskermende toerusting wat aangekoop is, bevraagteken. Hy wou weet waarom die munisipaliteit 8 000 gesigskerms aangekoop het as daar net 2 120 werknemers is en waarom hulle 20 000 houers met 100 skoenoortreksels per houer aangekoop het.

Volgens Chris Hattingh, DA kiesafdelingshoof en raadslid van JB Marks, was daar al vir ‘n geruimte tyd kommer by raadslede oor die finansiële stelsel van die munisipaliteit, veral met die verkrygingsketting.

“Die stelsel het toenemend en veral oor die afgelope tyd in ‘n koverte stelsel verander. Indringende vrae wat raadslede en selfs die munisipale komitee oor openbare rekening (munisipale SKOOR) oor finansiële kwessies het, word nie beantwoord nie. Munisipale SKOOR-lede word selfs nie in kennis gestel van vergaderings met die provinsiale SKOOR-komitee nie en moet direkte skakeling met die provinsiale komitee bewerkstellig,” sê Hattingh.

Hierdie ontwyking van finansiële aanspreeklikheid oor ‘n periode van vier jaar, het gelei tot ‘n mosie waarin die DA voorwaardes gestel het vir die voorlopige goedkeuring van die begroting. Indien vrae oor vorige begrotings nie by die volgende raadsvergadering beantwoord word nie, kan die volgende begroting nie goedgekeur word nie. Dit is ook eenparig deur die raad so aanvaar,” sê Hattingh.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button