NewsNews

Dorp se gastehuise steier onder inperking

Dorp se gastehuise steier onder inperking

Meer as 160 gastehuise in en om Parys vertel die storie van ’n dorp wat met sy plattelandse hartlikheid besoekers naweek na naweek omarm het met sy gasvryheid.
’n Gewilde naweekbestemming vir stedeling en avontuursoeker wat bekoor is deur die dorp se eiesoortige mooi, sy rivier en sy breë strate, sy anderste winkeltjies en kleurvolle galerye en restaurante. Sy gastehuise van eenvoud, tot sjiek en deftig. Maar grendelgrense, permitte en ’n aandklok-reël het oornag naas die restaurantbedryf, ook die lewe uit die dorp se gasvryheidsbedryf gewurg.

Waar veilings, perdeskoue, buitelug-avontuur en sportgeleenthede gesorg het vir ’n naweek se kuier-en-bly, is dit nou meer dagbesoekersvoete wat naweke hier gesien word.
Van die gastehuiseienaars met wie Gazette gepraat het, het reeds hul gastehuise voor, of vroeg tydens inperking verkoop. Ander verhuur nou die eiendom permanent, maar vir dié wat nog hul gastehuise bedryf, het dié bedryf ’n groot bekommernis geword.
Hester Vermaak van Rose Acres sê hoewel daar die afgelope vier maande enkele besigheidsbesprekings was, is hul gastehuis se inkomste met meer as twee derdes gesny. Die gevolg, soos vir baie ander sakeondernemings, is personeel wat hulle noodgedwonge moes aflê.

Nog ’n gastehuiseienaar, Hildegarde Barnard, sê dat hoewel daar heelwat navrae is van mense wat wil weet of die gastehuis oop is, baie min nou besprekings maak. Omdat daar so baie gastehuise in die dorp is, was dit voorheen al moeilik om besprekings te kry, maar nou is die uitdaging selfs nog groter.
Gastehuiseienaars doen reeds hul deel om alle moontlike gesondheids- en veiligheidsregulasies na te kom, en sê Hildegarde dat sy ook besoekers aanraai om hul permitte in plek te hê as oor provinsiegrense beweeg word. Tog is dit net nie genoeg nie, en maak regeringsregulasies die bedryf van gastehuise bykans onmoontlik. Daarom sê Hildegarde het sy begin konfyt kook omdat die inkomste uit die gastehuis wat hul pensioen aangevul het, oornag opgedroog het.
Soos die restaurantbedryf, voel gastehuiseienaars dat alvorens die provinsiegrense nie oopgestel word nie, die dorp se gastehuise op die lange duur nie kan oorleef in ’n dorp wat suiwer afhanklik is van toeriste nie.

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button