News

Uit die oogpunt van ‘n depressielyer

Uit die oogpunt van ‘n depressielyer

Kleinjan Redelinghuys. Foto: Neels Redelinghuys

Hy het nog altyd sy sport geniet en het ‘n avontuurlus wat vir niks terugstaan nie. Die man het al alles gedoen, van rekspronge van die Bloukransbrug tot krokodilhokduik en ‘skydiving.’ Dapper? Beslis, in meer as een opsig. Kleinjan is al vir jare in ‘n oorlog teen sy eie brein gewikkel.

Depressie en angs het op skool al sy konstante skaduwees geword wat kort-kort dreig om hom te oorweldig. Hy was maar 17 jaar oud toe hy die eerste keer probeer selfmoord pleeg het en in ‘n psigiatriese saal opgeneem is. Dit was die begin van sy lang pad saam met psigiaters, sielkundiges en medikasie.

Daar was tye wat alles hand uitgeruk het en dit vir hom gevoel het of hy die stryd verloor het. Ander tye het dit beter gegaan. Kon hy sy studies voltooi. Nuwe dinge aanpak. Avonture beleef. Net om homself weer ter pletter te loop teen homself. Sommer net.

Depressie het nie redes nodig om toe te slaan nie. Soms is daar ‘n wapenstilstand, maar Kleinjan weet dat elke dag ‘n stryd is om oorlewing wat elke aspek van sy lewe beïnvloed.

Die boek wat die sluier lig oor die stryd wat iemand met depressie daagliks teen hulself en die siekte voer.

Deur die jare het hy ook besef dat miljoene mense gemoedssiektes soos major depressie, angsaanvalle en bipolêre gemoedsversteuring het, maar dat dit steeds ‘n taboe-onderwerp is in baie kulture wat misverstaan of verkeerd uitgebeeld word. Veral mans mag mos nie emosie toon, huil of erken dat hulle nie goed voel nie…

Daarom het Kleinjan besluit om ‘n boek te skryf en self te publiseer. In Unfiltered – Grappling with Mental Illness, vertel hy op die man af waardeur hy is en waardeur hy nog steeds gaan.

Hy probeer nie ‘n suikerlaag omsit of simpatie soek nie, tog boei die boek van begin tot end.

“Ek het net gevoel ek moet my storie vertel. Ek glo dit kan vir mense iets beteken,” het hy gesê. Deur die boek wil hy die depressielyers, maar ook die mense wat nie depressie verstaan nie, bereik.

“Mense moet weet dat depressie en angs nie doodsvonnisse is nie. Al het jy depressie of ‘n ander gemoedsversteuring, onthou, jy kan steeds groot dinge in die lewe bereik. “Dit hoef jou nie noodwendig te beperk tot ‘n onproduktiewe, betekenislose en kleurlose lewe nie.”

Vir mense wat nie depressie ken en verstaan nie sê hy: “Ek is die perfekte voorbeeld van, you never know what’s going on behind closed doors. Predikant se seun, goeie sportman en akademiese presteerder, grapjas, lyk altyd rustig, lewe lyk perfek van die buitekant af, maar aan die binnekant, tuimel alles inmekaar. Ek glo dit sal mense oorreed om twee keer te dink voordat hul gevolgtrekkings oor ander maak.”

* Die boek is aanlyn beskikbaar en kan ook direk van die skrywer bestel word. Gaan loer gerus by www.kjredelinghuys.com.

https://vaalweekblad.com/68993/uit-die-oogpunt-van-n-depressielyer/

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button