News

Huisbrande: Wenke om jou en jou gesin te beskerm

Huisbrande: Wenke om jou en jou gesin te beskerm

Soos wat die winter stadig maar seker sy ysige greep verstewig, word gasverwarmers, kaggels, elektriese verwarmers, paraffienstowe, elektriese komberse en meer ingespan om die koue te verdryf.
Volgens die woordvoerder van die Johannesburgse Nooddienste, Robert Mulaudzi, is paraffienstowe en kerse steeds die hoofoorsaak van brande in informele nedersettings, terwyl elektriese- en gasverwarmers ‘n groot uitdaging aan nooddienste in ander woongebiede bied. Daar is egter talle ander maniere waarop huisbrande kan begin.

“Een van die grootste bekommernisse rondom huisbrande is die oortuiging, ‘Dit sal nooit met my gebeur nie’,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Die feit is dat dit kán en sál as jy net vir ‘n oomblik nie op jou hoede is nie. Dit neem net een gloeiende kooltjie naby ‘n vlambare item, een foutiewe gaspyp of draad, of een skakelaar wat per ongeluk in die AAN of OOP posisie vergeet word, vir jou om deel te word van die statistieke van totale verlies van jou eiendom… of erger.”
Waardevolle wenke om te onthou:
Vertrou die kenners: Maak seker dat alle verhittingstoestelle deur die SABS goedgekeur en, waar toepaslik, deur ‘n geakkrediteerde diensverskaffer geïnstalleer is. Verhittingstoestelle wat nie korrek geïnstalleer is nie, was al die oorsaak van talle sterftes in Suid-Afrika.

Lees die handleiding en kom dit na. Dis noodsaaklik om toestelle binne die limiet, soos vasgestel deur die vervaardiger, te gebruik. Om byvoorbeeld ‘n toestel op maksimum hitte te stel vir verlengde periodes, om dit nie op ‘n gelyke oppervlak te plaas nie, om dit te skuif terwyl dit aan is, of om ‘n toestel vir langer te laai as wat aanbeveel word, kan ‘n ernstige risiko inhou.
Bedrading- en pypinspeksie: Maak seker dat alle toestelle, sowel as hulle pype en bedrading, in goeie en veilige, werkende toestand is. Neem gasbottels gereeld na jou naaste gashandelaar om hulle na te gaan vir lekplekke. Dit sluit gasbottels vir verwarmers, braaiers en stowe in.
Hou ‘n ogie: Moet nooit verwarmers, elektriese komberse, kerse of stowe sonder toesig laat nie. Wees veral versigtig voordat jy in die bed klim en maak seker dat alle hittebronne afgeskakel of uitgedoof is.

Oorlading: Moet nooit ‘n kragbron oorlaai nie. Skakel alle toestelle wat nie gebruik word nie af, en prop hulle uit.
Ventilasiewys: Maak seker dat verhittings-, elektriese- en elektroniese toestelle in ‘n ruim en goed-geventileerde spasie is om oorverhitting te voorkom. Moenie verwarmers met klere of ander materiaal wat jy graag wil warm of droog maak, bedek nie.

Vuur eerste, gas tweede: As jy ‘n gasverwarmer of -stoof het en dit self moet aansteek, maak seker dat jy die vuurhoutjie of aansteker eerste aansteek voordat jy die gas oopdraai.
Klottervry: Beperk klotter (clutter) tot ‘n minimum – beide binne en om jou huis – omdat dit brandstof vir ‘n vuur kan wees. Hou en stoor vlambare materiale, insluitend brandstof, ver weg van hittebronne.

Rookslim: Installeer rookverklikkers in jou woning, indien moontlik. Dis ‘n uitstekende vroeë alarm.
Hulp ‘n armlengte ver: Hou ‘n brandblusser byderhand, veral naby die kombuis en ander areas waar hittebronne gereeld ingespan word. Maak seker dat jy weet hoe om dit te aktiveer en te gebruik.

Noodplan: Maak seker dat uitklinkskakelaars en afsnykleppe in ‘n goeie, werkende toestand is.
Hou alle nooddiens-kontaknommers byderhand en moenie wag tot ‘n vuur buite beheer is voordat jy die nooddienste kontak nie.

 

 

Related Articles

Back to top button