NewsNews

Historiese offisierswoning by Witrand in brand vernietig

Historiese offisierswoning by Witrand in brand vernietig

Die offisierswoning nadat deur die brand verwoes is. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die eens statige ou offisierswoning wat op Witrand se terrein geleë is en nagenoeg 107 jaar gelede deel was van ’n Britse militêre kamp in Potchefstroom, is Vrydagmiddag, 17 Julie in ‘n brand vernietig.

Dié woning is in 1982 as ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar en was eens ’n pragtige Viktoriaanse huis wat bekend gestaan het as “The General’s House” – die huis van die bevelvoerende offisier van die Britse garnisoen wat hulle na die Anglo-Boereoolog in Potchefstroom gevestig het.

Die offisierswoning was eens ‘n pragtige Viktoriaanse huis.

Vrydagmiddag het ‘n veldbrand, wat langs Louis le Grangestraat (Ventersdorppad) ontstaan het, oorgeloop na die huis wat in ‘n erg verwaarloosde toestand was. Na bewering het die lang gras en bome tot teenaan die huis ook begin brand en veroorsaak dat die hele huis afgebrand het. Die brandweer is te laat in kennis gestel en kon ongelukkig nie die huis red nie.

‘n Bekommerde Potchefstroomse inwoner, Gawie van der Walt, het toevallig die verwaarloosde toestand waarin die huis was aan die begin van Junie opgemerk en op 10 Junie ‘n foto van die woning aan raadslid Werner van Onselen per e-pos gestuur.

‘n Foto van die huis net voor die brand toon duidelik dat dit oorgroei was met lang gras en bome tot teenaan die huis. Foto: Gawie van der Walt

Van Onselen het op sy beurt weer op 12 Junie ‘n e-pos aan die munisipale bestuurder, Lebogang Ralekgetho, die direkteur van sport kuns en kultuur, Cyril Henry en die assistent direkteur van parke, Thomas Muswede, gestuur waarin hy hulle oor die toestand van die huis ingelig het. Hy het voorgestel dat hulle saam ‘n besoek by die offisierswoning aflê om te bepaal hoe die omgewing skoongemaak kan word, maar ongelukkig het die ontmoeting nie betyds gerealiseer nie.

William Maphosa, kommunikasiewoordvoerder van JB Marks munispaliteit, het in ‘n verklaring bevestig dat die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande Nr. 101 van 1998 duidelik stipuleer dat die eienaar of verhuurder van eiendom vir voorbrande verantwoordelik is en die terrein sodanig skoon moet hou dat dit nie ‘n brandgevaar sal skep nie. Hy sê dat dit Witrand se verantwoordelik was om die terrein skoon te hou en nie die munisipaliteit sin nie.

Volgens Johan Wolfaardt, voorsitter van die Erfenis Potchefstroom stigting, het die gebou aan die Departement Openbare Werke (DOW) behoort en moes hulle die terrein in stand gehou het en die gebou gerestoureer het.

Die Herald het probeer om personeel van DOW te kontak, maar was onsuksesvol. Wolfaardt sê dat DOW se onbeskikbaarheid en onbelangstellendheid die grootste oorsaak is vir die huis se verweer. “Die ontoeganklikheid van die huis wat op die terrein van Witrand gestaan het en vir die publiek verbode was om te besoek, het ook verder daartoe bygedra dat die gebou verder verwaarloos het,” sê Wolfaardt.

Vir die inwoners van Potchefstroom wat sentimenteel is oor die erfenisterreine van hul stad, is hierdie verlies baie groot.

Dr. Lennie Gouws, plaaslike geskiedkundige en Elmarie Weyers, kurator van die Potchefstroomse Museum, het inligting aan die Herald verskaf om lesers in te lig oor die geskiedenis van die offisierswoning en die ontstaan van die Witrand psigiatriese hospitaal.

Die offisierswoning is volgens ‘n bron rondom 1913 uit kleibakstene gebou en was anders as die res van die militêre geboue wat net uit hout en sink bestaan het. Die dekoratiewe houtwerk om die veranda was die enigste houtwerk aan die gebou.

Die huis was geleë op ‘n ruim terrein met ‘n buitetoilet en waenhuis van sink. In die tuin was ook ‘n grond tennisbaan. Die tuin is ook omhein met die oorspronklike staalheining wat uit Engeland ingevoer is. Voor die huis was ‘n groot paradegrond wat hoofsaaklik tydens seremoniële geleenthede gebruik is.

Witrand het ‘n besondere verbintenis met die Britse militêre kamp en die offisierswoning wat na die Anglo-Boereoorlog hier opgerig is.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog word die militêre kamp gebruik vir die huisvesting van artillerie- en infanterie-eenhede wat opleiding ontvang vir diens oorsee.

Na afloop van die oorlog is sommige van die geboue in die militêre kamp, wat net uit hout en sink bestaan, afgebreek en by plaaslike skole opgerig. Die bekendste een was die “Tin Temple” by Boys High.

Op 7 Junie 1923 het die Departement Binnelandse Sake die militêre geboue oorgeneem vir die vestiging van Witrand. Die superintendent van Witrand het in die offisierswoning ingetrek, wat toe later as die superintendentswoning bekend gestaan het.

Die agterkant van die huis na die brand. Foto: Venessa van der Westhuizen

Related Articles

Back to top button