NewsNews

Vaal bid en treur na gr. 12 leerder sterf en gr. 8 leerder tweede operasie ondergaan

Vaal bid en treur na gr. 12 leerder sterf en gr. 8 leerder tweede operasie ondergaan

ER24 se nooddienspersoneel het omstreeks 17:20 op die toneel in Vanderbijlpark opgedaag en die kinders in die pad gevind.  Shelby het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Jané is ernstig beseer en is na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton geneem waar sy reeds twee operasies ondergaan het.

Jané se ouers, Claudia en Chris, het Dinsdag op pad hospitaal toe in ‘n onderhoud aan Vaalweekblad gesê dat hulle nie kwaad is vir die ‘oom’ wat ‘ in hulle vasgery het nie’ en dat hulle vir hom en vir Shelby se gesin bid.

Jané is die jongste van die Vorster-egpaar se drie kinders. Hulle is ‘n gesin wat die Here dien.

“Jane en Shelby was vreeslik baie lief vir mekaar. Omdat sy in gr. 8 is en hy in gr. 12, het hulle ons versoek gerespekteer dat hulle net beste vriende moet wees,” vertel Claudia.

“Saterdag het die kinders by die huis gekuier. Jané het kom smeek of sy saam met Shelby ‘n ‘lift’ op sy motorfiets kon vat.”

Daar is aanvanklik nee gesê, maar Jané het aanhou smeek en later haar ouers omgepraat, sonder dat hulle besef het dat daar net een valhelm was. Shelby het glo aangedring dat Jané die valhelm opsit. Hulle sou net ‘n entjie in die straat opry, maar toe eindig die aand in oneindige hartseer.

Die ander kinders het gewag dat die twee moet terugkom en later bekommerd begin raak toe dit begin lank vat. Jané se sussie het toe tot op die hoek geloop en ‘n klomp motors in die pad sien staan. Toe sy nader gaan het sy besef dit is Jané en Shelby wat daar in die pad lê.

“Ons het dadelik daarheen gejaag. Jané het net daar gelê met haar swart haartjies en haar gesigie was spierwit. Ek het die bloed aan haar lyfie gesien en gedink my kind, jy lyk soos Sneeuwitjie. Ek het besef Jesus se bloed is reeds oor my kind en dat sy weet Hy is by haar,” sê Claudia. Sy glo Shelby het haar dogter se lewe gered. “Hy is en sal altyd haar ‘hero’ wees.

“Ek wil graag die paramedikus bedank wat my kind se hand in die ambulans vasgehou het en saam met haar gebid het toe ek nie daar kon wees nie,” sê Claudia.

Jané het Sondag reeds haar eerste operasie ondergaan om haar gebreekte bekken te herstel. Die skade aan haar bekken was egter baie erger as wat aanvanklik vermoed is en dit het veroorsaak dat die oprasie aan haar enkel uitgestel moes word. Sy het Dinsdag ‘n tweede operasie aan haar bekken ondergaan omdat die herstel na die eerste een nie na wense was nie.
“Ons kind se hart is seer oor Shelby en haar gemoed is baie af. Weens Covid-19 mag ons haar nie sien nie en sy kry baie swaar, sy huil en soek net vir mamma en pappa. “Die pad vorentoe is nog lank, maar ons weet ons dien ‘n God van wonderwerke.

“Ons wil vir Shelby se gesin wat ons kind vertroos en bystaan, baie dankie sê, asook vir almal wat vir haar bid, en vir al die liefde en omgee. Hou asb. aan bid vir ons kind.
“Ons bedank in besonder ook die verpleegsters en dokters wat so goed is vir ons kind,” sluit Jané se ouers af.

Die ongelukstoneel waar Shelby van Wyk, ‘n gr. 12-leerder van die Hoërskool Driehoek Saterdag gesterf het, en Jané Vorster (14) baie ernstig beseer is. Foto: CHASE

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Vaal bid en treur na gr. 12 leerder sterf en gr. 8 leerder tweede operasie ondergaan

Related Articles

Back to top button