NewsNews

Ramshorings weerklink elke aand

Ramshorings weerklink elke aand

Vir die volgende twee tot drie minute verbreek die diep klanke van twee ramshorings en die skriller klank van ‘n vuvuzela die aandstilte. Ver en wyd trek die klank oor die Lamontpark-kleinhoewes by Vanderbijlpark. Flikkers se ganse sit ‘n keel op asof hulle wil saam gesels en Neels se honde word sommer weer pure wolf soos hul die noot aangee.

Die drie manne het in Maart vanjaar met dié aand-ritueel begin toe Suid-Afrika die grendeltydperk betree het. “Ons doen dit vir almal wat op die voorgrond werk in hierdie tyd, van die polisielede tot by die mediese personeel. Dis ons manier om die mense te eer,” beduie Gerrit.

Die honde het nuuskierig nader gestaan toe die demonstrasie begin.

Van die bure het al gekla oor die gedoente elke aand, maar die manne hou voet by stuk dat hulle sal aanhou om dit te doen solank as wat die virus woed. “Ek probeer nou bietjie sagter blaas,” sê Flikkers en beduie na sy vuvuzela wat hy tydens die Sokker Wêreldbeker in 2010 gekry het.

Neels en Gerrit het eerste besluit om elke aand die ramshorings te blaas nadat hulle gehoor het van mense in Engeland en Italië wat elke dag hande klap vir die werkers wat soveel moet opoffer in die stryd teen Covid-19.

“Dis ons manier om almal wat teen die virus baklei, te seën,” sê Neels wat die meer ervare blaser van die drie is. “Neels kan liedjies speel,” sê Gerrit, wat by die einste Neels geleer het hoe om die instrument baas te raak, “die res van ons blaas net,” lag hy. “Dis nog niks,” beduie Neels, “my agterkleindogter kan twee tegelyk blaas.” Neels se seun, Martin Lombard, blaas ook elke aand vir twee minute op ‘n koedoehoring in George in die Wes-Kaap. Dit is sy manier om vir die dorp se beskerming te bid.

Ramshorings of Shofars word van ‘n verskeidenheid horings gemaak, onder andere blesbok, rooihartbees, koedoe, gemsbok en eland.

Op 2 Junie is hy egter beseer toe iemand hom met ‘n bromponie op die sypaadjie raakgery het. Die spore van die bromponie kon duidelik op die gras gesien word. Volgens Neels het Martin steeds nie van al sy beserings herstel nie en is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Neels is ook die een wat weet hoe om die ramshorings, ook bekend as Shofars, te maak. Hy gebruik blesbok-, rooihartbees-, gemsbok- en koedoehorings. Elke ramshoring klink anders. Dit is ‘n instrument wat dateer uit die Bybel se tyd en is heelwat moeiliker om te blaas as wat dit op die oog af lyk. “Dis soos ski, party mense bly afval en dan kry jy ander wat sommer dadelik kan regop staan op die water,” verduidelik Flikkers. “Oefen. Hou net aan totdat jy dit regkry,” is Gerrit se raad, nadat ek net so ‘n heesgeluidjie uit ‘n blesbokhoring kon kry.

“Onthou nou, ons blaas elke aand as ‘n huldeblyk aan die verpleegpersoneel en almal wat ‘voorvat’ teen die virus. Skryf daar ons erken hul werksaamhede, verpligtinge en opoffering. Ons sal nie ophou nie. Hulle moet weet hulle is nie alleen nie.”

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Ramshorings weerklink elke aand

Related Articles

Back to top button