NewsNews

Gesamentlike regsaksie kom teen Ngwathe en Eskom oor kragchaos

Gesamentlike regsaksie kom teen Ngwathe en Eskom oor kragchaos

Terwyl daar Donderdag 16 Julie steeds geen oplossing vir Parys se kragkrisis gekry kon word na nog ‘n rondte samesprekings tussen die munisipaliteit en Eskom nie, is die Vaal River Development Association (Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum) en Parys Gemeenskaps Aksie gesamentlik besig met regsaksie teen die Ngwathe munisipaliteit en Eskom.
Daar word verwag dat ‘n dringende aansoek vir ‘n hofinterdik om die Ngwathe munispaliteit en Eskom te dwing om nie beide nasionale en munisipale beurtkrag toe te pas nie, en Eskom te forseer om nie die munisipaliteit te dwing om rotasie beurtkrag toe te pas nie, dalk so gou as einde Julie of vroeg Augustus voor die Hoë hof gebring sal word.
Die regsaksie teen Eskom en Ngwathe word gesamentlik gedryf deur die Parys Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskaps Aksie onder die vaandel van die Vaal River Development Association (Edms) Bpk.

Die regslui wat namens die groep sal optree is advokaat Danie Wijnbeek en prokureurs Andreas Peens wat ook Harrismith se saak dryf, en Lou van Wyk as prokureur van rekord.
Lou van Wyk het ook in 2014 as prokureur opgetree vir die Parys Ontwikkelingsforum wat toe ook die munisipaliteit hof toe gevat het oor gebrekkige dienslewering.
Die Hoë Hof het destyds op 23 Oktober 2014 by monde van regter C.H.G van der Merwe, ’n bevel ten gunste van die Parys Ontwikkelingsforum uitgereik om die Ngwathe munisipaliteit te dwing om sy verantwoordelikheid vir dienslewering aan sy inwoners na te kom. Naas die opskerp van dienslewering is die fokus van die forum toe ook gewees om die munisipaliteit te dwing om sy finansiële beplanning reg te ruk, infrastruktuur op te knap en inkomste invordering effektief te doen. Aspekte waarin daar tot nou steeds nie vordering gemaak is nie.
Die bevel wat toe in die Hoë Hof bekragtig is, is destyds as bloudruk vir soortgelyke sake teen munisipaliteite beskou.

Die bevel was vir minstens 5 jaar van krag, en bly steeds geldig tensy dit deur ’n ander hofbevel ter syde gestel sou word wat nooit gedoen is nie.
Soos ook nou die geval, het die hofaksie gevolg nadat onderhandelings en gesprek om die implementering van ‘n omkeerstrategie vir die munisipaliteit af te dwing, niks opgelewer het nie.
Van Wyk sê dit is juis hierdie bevel wat destyds in die Hoë Hof uitgereik is, wat die party se saak teen Eskom en Ngwathe
sal sterk.

Hy sê sou ’n interdik slaag, sal dit ook opgevolg word deur verdere toepassing en uitbreiding van die Hoë Hof bevel van 2014.
’n Petisie ter ondersteuning van die regsaksie is reeds ’n geruime tyd by verskeie besighede in Parys beskikbaar en is meer as 5 000 handtekeninge alreeds op die petisie. Daar is ook meer as 3 000 handtekeninge na verneem op die aanlyn petisie. Die petisie kan steeds geteken word, en is regslui nou besig om in samewerking met inwoners ook stawende bewyse in te samel oor gebrekkige dienslewering van die Ngwathe munisipaliteit.

Die publiek moet egter kennis neem dat hoewel verskillende bankrekeningbesonderhede deur die Parys Ontwikkelingsforum en die Parys Gemeenskap Aksie gegee is, alle fondse wat in die twee afsonderlike rekeninge deur die publiek inbetaal is, saamgevoeg word vir die regsaksie, en het beide die Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskaps Aksie die versekering gegee dat daar nie verwarring moet wees oor duplikasie van aksies nie.

 

Hoekom munisipale rotasie beurtkrag?
Eskom het tot nou toe volstrek geweier om die maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening aan Ngwathe te verhoog, tensy Ngwathe sy uitstaande rekening betaal, of omskakel na voorafbetaalde aankope met ‘n deposito vir drie maande se verbruik. Dit beteken vir Ngwathe dat R77 miljoen onmiddellik betaalbaar is – geld wat die munisipaliteit nie het nie.
In 2011 toe die Parys Ontwikkelingsforum met sy aksie begin het, was Ngwathe se uitstaande Eskom-rekening R32 miljoen en het Eskom en Ngwathe oor die afgelope 9 jaar toegelaat dat die rekening eskaleer tot die enorme R1,2 biljoen plus.

Hoewel daar aanmanings was van Eskom se kant, is geen daadwerklike aksie geneem nie, nadat die hof by twee geleenthede verhoed het dat die krag afgesny word.
Die hoofoorsaak van die munisipale rotasie beurtkrag het juis ontstaan uit Eskom se weiering om meer krag aan die munisipaliteit te voorsien as waarop daar oorspronklik in 2008 ooreengekom is. Eskom pas tans ‘n limiet van 21 KVA toe, terwyl die munisipaliteit se behoefte sedert dié ooreenkoms vergroot het tot 25 KVA.
Volgens Eskom kan die aansoek vir verhoging van die sogenaamde Notifiable Maximum Demand (NMD) nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer en Eskom nie tevrede is dat die destydse aanvaarde afbetalingsplan nagekom word nie.

Ngwathe ontvang ongeveer R12 miljoen per maand inkomste van verbruikers, en is daar nagenoeg 3 500 voorafbetaalde meters waar verbruikers reeds die elektrisiteit gekoop en betaal het, wat ook nou deur die beurtkrag geraak word.

Sedert verlede Vrydag het Eskom landwyd begin beurtkrag toepas en is Parys geraak deur beide Eskom beurtkrag en munispale rotasie beurtkrag wat op die munisipaliteit afgedwing word om die enkele werkende Eskom transformator by Eskom se substasie in Parys te beskerm teen oorlading. Hoewel Eskom twee transformators by die substasie het wat elk 20KVA krag kan voorsien, is herstelwerk aan een van die transformators nodig wat nie gedoen sal word aldus die kragreus, tensy die skuld betaal word.

 

 

Related Articles

Back to top button