News

Inperking beroof ouers van ‘n laaste groet aan hul dogter

Inperking beroof ouers van ‘n laaste groet aan hul dogter

 

VANDERBIJLPARK. – “Ek sukkel om vrede te maak met my kind se afsterwe. Was dit nie dat ek nog twee dogters en kleinkinders gehad het nie, sou die dood ook my uitweg wees.”
Dit is die hartseer woorde van mev. Elize Barnard, wat te midde van die Covid-19 inperking haar oudste dogter, Nelie Bowns (32), aan die dood moes afstaan. Nelie het op 28 Mei aan ‘n gewas en infeksie in die brein gesterf. Dit pla Elize veral dat sy haar kind in die laaste weke voor haar dood nie in die hospitaal kon besoek nie en nie by haar was toe sy gesterf het nie.
Nelie, ‘n jong weduwee wat haar man ses jaar gelede verloor het, was al ‘n geruime tyd siek en het aan die begin van Maart ‘n beroerte gehad. Sy het die gebruik van haar linkerarm verloor en was so swak dat sy met ‘n rolstoel oor die weg moes kom. In April het sy teruggetrek na haar ouerhuis, waar Elize en haar man, Jacobus, na haar omgesien het.
“Haar toestand het toenemend versleg. Ons kon sien hoe sy daagliks agteruit gaan. Sy is op 8 Mei in die Sebokeng-hospitaal opgeneem, waar hulle regtig alles in hulle vermoë vir haar gedoen het. Weens die inperking is ons nie toegelaat om haar te besoek nie. Ek het elke dag gebel en hulle het my deurgaans op hoogte gehou van haar toestand. Sy het heeltyd na my geroep, maar van Maandag 25 Mei af het sy stil geword. Dit het my hart gebreek.
“Die volgende dag, 26 Mei, het hulle ons gevra om hospitaal toe te kom en aan ons verduidelik dat Nelie baie siek was. Dat sy nooit weer dieselfde as voorheen sou wees nie. Ons is toegelaat om haar vir 5 minute te sien en ek kon haar darem ‘n drukkie gee, maar dit was duidelik dat sy nie meer by haar volle bewussyn was nie. Die Woensdag het die dokter my gebel en gesê Nelie gaan vinnig agteruit en op Donderdagaand om 20:00 het die hospitaal ons die slegte nuus gegee dat sy oorlede is. Sy het alleen gesterf, sonder dat ons by haar kon wees…”.
Nelie is veras en haar gesin het op 27 Junie ‘n spesiale troosdiens, waar slegs 30 van die naaste familielede toegelaat is, op ‘n vriend se hoewe gehou.
“Sy was ‘n sprankelende, liefdevolle mensie wat alles en enigiets vir haar Mammie, Dad en susters sou doen. Sy was altyd my Prinses – baie gesteld op haar voorkoms, en mal oor dans en motorfietsry.”
“My lewe is leeg sonder my kind. Ek het al ‘n moeder, vader en suster verloor maar om ‘n kind te verloor, is seker die seerste seer wat daar is. Party dae kyk ek na haar foto en kan nie glo sy is weg nie. Ek soek haar nog orals om my. Sy was altyd so lief daarvoor om wanneer sy by my gekuier het, al agter my aan te loop en te gesels.”
Die afgelope week was opnuut moeilik vir die Barnards. Nelie sou Sondag, 5 Julie, 33 jaar oud geword het. Haar eerste verjaardag weg van haar mense wat haar so lief gehad het. Al wat nou sin gee aan Elize se lewe, is haar gesin en die voorreg om steeds ma te wees vir haar twee ander dogters en ouma vir haar kleinkinders. Haar eersgeborene se bekende groet saans, gaan sy nooit weer hoor nie, maar dit is onuitwisbaar in haar geheue ingebrand: “Lekker doeksies, myse Mammie”.

https://vaalweekblad.com/68133/inperking-beroof-ouers-van-n-laaste-groet-aan-hul-dogter/

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button