NewsNews

Lees saam: Boodskap in ’n bottel

Lees saam: Boodskap in ’n bottel

Die liefde vir lees is een van die belangrikste en kosbaarste vaardighede wat jy jou kinders kan leer. Daarom het Parys Gazette hande gevat met die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog om voortaan gereeld tweeweekliks ‘n storie te publiseer wat kinders, maar ook ouers sam met ons kleiner kinders kan lees. Jy kan daarom voortaan uitkyk vir hierdie stories op Saterdae en Sondae op Parys Gazette se webtuiste. Hier is vandag se storie:

 

Boodskap in ’n bottel

 

Dit is laatmiddag. Chiku en haar broer, Jabali, staan op die strand naby hul huis in Mombasa. Groot groen branders breek voor hulle.

 

“Is jy gereed?” vra Jabali.

 

“Ja!” sê Chiku.

 

Jabali haal diep asem, lig sy arm op en gooi die glasbottel so ver as wat hy kan. Dit vlieg oor die skuimende branders, blink in die sonlig en plons in die see in. Chiku en Jabali glimlag vir mekaar toe hulle omdraai en huis toe stap.

 

“Hoe lank dink jy sal dit neem?” vra Chiku.

 

“Ek weet nie!” antwoord haar broer. “Jy sal dalk baie lank moet wag, maar iemand sal dit vind! Jy moet maar wag en kyk.”

 

Die bottel dobber weke lank op die water rond. Eenkeer swem ’n groot vis tot reg by die bottel. “Hmmm,” sê sy. “Daar’s iets binne-in hierdie harde borrel … dis wit met swart krabbels daarop. Ek wonder wat dit is?”

 

WOESJ! Skielik swem ’n skool silwer vissies reg onder haar verby. Die groot vis vergeet skoon van die bottel. “Dis nou ’n gelukkie,” lag sy terwyl sy agter die silwer vissies aanswem, “my middagete is hier!”

 

Die bottel dryf verder, deur kalm water en stormagtige seë. Een aand lig ’n klein haaitjie dit op om te sien wat binne-in is. “Mensegoed,” waarsku sy pa. “Moet dit nie eet nie; dit sal jou siek maak!”

 

Die klein haaitjie laat val die bottel en skiet weg om eerder sy maat te gaan soek.

 

Steeds dryf die bottel verder en word deur die getye van die oseaan voortgedra. Een middag sien ’n wyse ou dolfyn dit in die water daar naby. “Kyk!” sê sy. “Ek sien menseskrif!”

 

Dolfyne is baie slim. Sy weet sy kan die woorde wat sy deur die glas sien, lees. Maar voor sy kan probeer, druk haar kleinkind sy neus onder die bottel in. “Vang!” roep hy. ’n Hele skool dolfyne lag en piep terwyl hulle die bottel vir mekaar gooi.

 

Een stormagtige aand, baie maande later, dra die golwe die bottel al die pad tot op die strand by Umgababa aan die kus van KwaZulu-Natal. ’n Bietjie later kom ’n seun met die naam Sandile met sy gesin daar aan vir ’n vakansie by hul neefs en niggies.

 

Die volgende oggend is Sandile vroeg wakker. Gewoonlik haat hy dit om op te staan. “Skool is so vervelig!” mompel hy altyd. “Waarom moet ons leer lees en skryf? Dis baie meer pret om speletjies te speel!” Maar vandag is anders, want Sandile is met vakansie en hy is dol oor die strand.

 

Gou hardloop hy saam met sy jonger sussie en niggie op die nat sand rond.

 

Skielik sien hy iets in die vlak water naby ’n paar groot rotse ronddryf.

 

“Kyk!” skree hy, en wys na die bottel. Dit het effens groen geword, maar Sandile kan steeds sien dat daar ’n stukkie papier binne-in is. “Wat is dit?” vra hy opgewonde.

 

“Dalk is dit geld!” stel sy suster, Sindi, voor.

 

“Nee,” sê hul ouer niggie, Mpumi, en tuur na die bottel. “Dit lyk soos ’n brief!”

 

Sandile trek ’n gesig. “VERVELIG!” sê hy.

 

“Dink ’n bietjie daaroor,” sê Mpumi. “Hierdie brief kom dalk van ver af, en dit kan al jare lank in die water wees! Kom ons vat dit huis toe en maak die seël met ’n mes oop!”

 

Uiteindelik is die bottel oop. Mpumi trek die brief uit.

 

“Hallo,” lees Mpumi. “My naam is Chiku. Ek is nege jaar oud.”

 

“Nes ek!” sê Sandile.

 

“Sjjjt!” sê die ander.

 

“Ek woon in Mombasa in Kenia,” lees Mpumi.

 

“Waar’s Kenia?” vra Sindi.

 

“Ek weet!” skree Sandile. “Dis ver weg, aan die ooskus van Afrika! Ek het net laas week by die skool daarvan gelees!”

 

“Jy’t gesê dit was ’n vervelige boek!” terg Sindi, maar Sandile hoor haar nie. Hy is te besig om die brief oor Mpumi se skouer te lees.

 

“As jy hierdie brief vind, skryf asseblief vir my terug,” lees Mpumi. “En dan’s daar ’n e-posadres hier,” sê sy vir Sandile. “Vra jou ma of jy vanaand vir Chiku kan skryf.”

 

En dis hoe Sandile vir Chiku begin skryf. Na ’n paar e-posse, voel lees en skryf nie meer so vervelig nie.

 

“Ek gaan eendag vir Chiku ontmoet,” vertel hy vir Sindi. “Tot dan kan ons vir mekaar e-posse stuur!”

 

En toe Sandile se gesin weer by hul niggies en neefs in KwaZulu-Natal gaan kuier, skryf hy ook sy eie brief op ’n stuk papier, verseël dit in ’n bottel en gooi dit in die see. Hy kry nooit ’n antwoord nie, maar hy sou baie verbaas gewees het as hy kon sien wie die bottel gevind het.

 

Die dolfyne het al die pad kuslangs geswem en woon naby ’n klein eilandjie. Toe die oudste dolfyn Sandile se bottel sien verbydryf, is sy baie opgewonde.

 

“Nog een!” sê sy. “Hierdie keer gaan ek dit lees!” Sy sleep die bottel tot op die strand en bêre dit onder ’n groot rots.

 

Elke dag staar sy na die woorde wat sy deur die glas sien. Sy kan dit nog nie lees nie, maar ek is seker sy gaan dit binnekort regkry!

Hierdie storie is goedgunstiglik voorsien deur die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog. Om hierdie storie ook in ‘n ander SA taal te lees, of vir ander geletterdheids aktiwiteite, leeswenke en meer stories wat jy saam met jou kinders kan geniet, besoek www.nalibali.org of kyk ook op Facebook of Twitter by @NalibaliSA

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button