News

Restaurante oop, maar…

Restaurante oop, maar...

Restaurante kon uiteindelik Maandag, 29 Junie weer hul deure vir die publiek oopmaak na ’n bitter en onsekere drie maande.
Nou kan jy by enige restaurant gaan eet. Daar is geen beperking op bedryfsure, of die getal kliënte in die restaurant nie.
Daar moet wel boek gehou word van kliënte en hul kontaknommers, en almal moet ‘n gesondheidsvraelys invul voordat jy kan ingaan
Jy dra ‘n masker, behalwe wanneer jy eet of drink, en geen buffetetes mag bedien word nie. So ook nie alkohol nie.
Spyskaarte moet weggooibaar wees of ontsmet word na elke gebruik, en streng gesondheidsregulasies moet nagekom word vir ontsmetting en sosiale afstand.
Maar al is restaurantdeure oop, is provinsiegrense steeds gesluit vir hulle wat naweek vir naweek die dorp laat lewe het met besoekersvoete.
Dit laat jou wonder hoeveel beter is restaurante wat deel is van die hartklop van Parys se ekonomiese voortbestaan, regtig daaraan toe?

Ja, daar was verligting vir sommiges toe wegneemetes weer afgelewer en later ook gehaal kon word, maar was dit genoeg om versekering, lone, huur, voorraad, diensterekenings en ander kostes te betaal?
Sommige kon weer vandeesweek oopmaak, maar daar is ook plaaslike restaurante wat noodgedwonge dalk hul deure permanent sal moet sluit.
En solank as wat vakansieverblyf nie toegelaat word, en grense gesluit bly, is plaaslike sakelui afhanklik van Parysenaars se ondersteuning.
O’s Restaurant is een van die restaurante wat wel die week kon open en sê Willie dat dit danksy die Parys gemeenskap se ondersteuning is dat hulle op die punt is waar hulle opgewonde is om weer Woensdag te kon oopmaak. Terselfdertyd sê hy dat hulle ook senuweeagtig is met regulasies wat ongetwyfeld dinge moeilik maak. Ook die alkoholverbod het ‘n geweldige impak.
“Maar selfs met die uitdagings is hierdie ’n groot tree vorentoe en is ons baie verder as waar ons twee maande gelede was,” sê hy.
Corien Pretorius van La Vie en Rose, een van die koffiewinkels in die dorp wat soos baie ander restaurante staatmaak op naweekbesoekers, stem saam dat dit onseker tye is. Jy leef nie van dag na dag nie, maar eerder van oomblik na oomblik, sê sy.

Vir Derick en Polla Claassen, eienaars van Legends Restaurant & Pub, het inperking beteken dat hulle op 11 Maart laas ’n inkomste gehad het.
Ja, hulle wil graag oopmaak, en gaan die naweek hul deure oophê, sê Derick, maar ook hier is die alkoholverbod dit wat hul onderneming kelder.
Omdat Legends bekend is as kuierplek en die restaurant nie hul hooflyn van inkomste is nie, moes daar al sover gegaan word om ‘n deel van die gebou te verhuur om te help met die huurverpligting.
Ons dink, bid en besluit die ding deur, sê Derick, maar draai ook nie doekies om oor die katastrofiese finasiële impak wat Covid-19 op hul onderneming het. Die vraag bly – hoe haal jy die agterstand in.
Tony Jardim van Oak Creek Spur stem saam en sê dat daar gedurende inperking reeds teruggeval moes word op reserwes.

Kinderspeelplekke in restaurante moet vir eers nog gesluit bly en behalwe vir die tafels in dié gedeeltes van restaurante wat gevolglik nie benut kan word nie, beteken die handhaaf van sosiale afstand van minstens 1,5m, dat restauranteienaars by implikasie net 50% van hul tafels kan benut – eintlik minder met ook patio’s wat nie gedurende die wintermaande gebruik kan word nie.
Waar daar met wegneemetes nog gesny kon word aan uitgawes, raak dit moeiliker wanneer ’n restaurant ten volle in bedryf kom, maar met die helfte van die inkomste van vroeër.
Jy bly verantwoordelik vir die volle huur, jou volle kragverbruik, die aankoop van voorraad want kliënte kom nie terug waar alles knaend uit voorraad is nie. Dis jy wat in jou personeel se oë kyk as daar skofte gesny moet word. Voeg daarby die gevoelige knou wat die verbod op drankverkope vir restauranteienaars inhou met mense wat soms tot die helfte en meer van hul rekenings aan drankies spandeer het.
Dan besef jy dat restauranteienaars se probleme van die afgelope drie maande nie oornag verdwyn het toe restaurantdeure oopgemaak het nie.
Maar al is die prentjie nog donker, is daar ook hulle wat planne in hierdie tyd gemaak het. Sandra Uys van Plum Tree Restaurant vertel hoedat wegneemetes nie vir haar die moeite werd sou wees tydens inperking nie. Toe begin sy gevriesde etes verkoop. Met ’n permit kon sy selfs oor provinsiegrense week na week etes verkoop.
Van ’n 145 sitplek restaurant kan ook haar restaurant nou net 50 mense op ’n slag hanteer ter wille van sosiale afstand. Boonop is naweekbesoekers ook die restaurant se grootste inkomste, en sal sy eers teen die naweek regtig kan sê watter verskil daar is nou dat restaurantdeure mag oop wees.

Vir haar is dit belangrik om positief te bly. Om mekaar hierdeur te dra en nie vas te kyk teen die probleem nie. Ja, dit was nog baie stil Maandag, maar sê sy, “die Here is goed vir ons”.
Besigbly het haar deur inperking gedra – of dit nou was om tafels af te skuur of van die muurversierings oor te doen.
Saam met haar personeel maak hul planne, en die belangrikste is dat ons dorp mekaar moet ondersteun, sê sy.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button