News

Elke uitdaging word ‘n geleentheid

VEREENIGING. – Imile de Bruin is net 27 jaar oud, maar hy het reeds 11 jaar se besigheidsondervinding.

Hy is deel van ‘n nuwe generasie wat nie op hul louere sit en wag dat iets moet gebeur nie. Dié twintig-plussers sien geleenthede waar ander mense versperrings sien.

“Ek het as ‘n boerseun langs die Vaaldam grootgeword. My pa was prokureur in die week en hy het  oor naweke geboer,” vertel hy. Die omwenteling in die De Bruins-huishouding het net voor sy 16de verjaardag plaasgevind. Sy pa Pieter, het besluit om voltyds in die bediening te gaan en het iemand gesoek om vir hom video’s te maak.

Imile het dadelik gesê hy sal dit doen. Sy pa moet net vir hom die toerusting koop. Die toerusting het hy op sy 16de verjaardag ontvang. Dit was die begin van sy eerste en oudste besigheid, IDB Productions.

Mile en sy span moes in ‘n stadium vir 100 mense aandete in die Etienne Rousseau Teater voorsit. Dit is toe dat hulle Die Lang Tafel-aand agter op die verhoog gehou het!

Hy het ‘n gawe om ‘n gaping in die mark raak te sien en vinnig te reageer om dit te vul. “Ek sien alles as ‘n uitdaging,” verduidelik hy.

“Ons leef in ‘n era waar dit maklik is om iets aan te pak. Ek sê altyd ja, ek sal, en dan gaan Google ek en kyk YouTube video’s tot ek dit regkry. Sodoende kan mens mos bykans enige iets doen!”

Imile het ‘n natuurlike talent vir bestuur en beplanning. Een van sy grootste drome was om by die Tekkiefees in Vereeniging betrokke te raak. Hy het werk daarvan gemaak en is reeds vir die afgelope vyf jaar deel van die organisering van dié fees.

In 2019 was hy ook by die immergewilde Aardklop Kunstefees in Potchefstroom betrokke waar hy, onder andere, die beligting van Katvoet in die Sanlam Ouditorium behartig het.

Die teater wat hom die naaste aan die hart lê is die Etienne Rousseau Teater (ERT) in Sasolburg waar hy die beligtingsingenieur is. “Dis ‘n eer om in so ‘n plek te werk. Die ERT het die beste akoestiek en ons kry die beste kunstenaars.”

Imile sê hy kon nie net terugsit en niks doen toe die grendelstaat aangekondig is nie. Gelukkig het hy drie jaar gelede al begin met Die Kombuis, ‘n spysenieringsbesigheid wat hy saam met sy vriende bedryf. Hy sê hulle het destyds begin om middagetes by Bokkie-weke en die Valke se rugbytoernooie te voorsien. Daar was altyd kos oor en dis toe dat hy ook met snoepies by skole begin het. Die kosbedryf het ook skade gely met die inperkings, maar Imile kon ‘n kosverspreidingspermit bekom en het aandetes tydens vlak 4 afgelewer.

Een van sy vriende se ma’s het voorgestel hulle begin ‘n skoonmaakdiens om besighede te help met die sanitasie van geboue. Dis presies wat hulle toe met goeie resultate gedoen het.

Hy hou van mense en hy geniet dit as hy mense kan vermaak. “Alles wat ek bereik het en wat ek doen was en is met die onvoorwaardelike ondersteuning en vertroue van my familie en vriende. My pa is altyd daar om vir my die wetlike aspekte uit te wys. My broer, Pieter, is die wêreld se beste nutsman (handyman). My ma, Lucia, het ‘n ongelooflike algemene kennis en my sussie, Ansumi, is altyd net ‘n oproep ver.”

Dan lag hy lekker. “My ma sê ek is ‘n handvol kind. Dis seker omdat ek altyd eksperimenteer en ‘n ding net só gedoen wil hê. Maar ek is darem ook die eerste om te erken as ek ‘n fout gemaak het.”

Naas sy familie, is sy vriende die spilpunt van sy bestaan en betrek hy sy binnekring by al sy projekte. “Maryke Keyser is al drie jaar saam met my in die kosbedryf. Sy help altyd, al kan ek haar nie betaal nie.”

Maryke en haar man, David Keyser is ook deel van die skoonmaakbesigheid, saam met boesemvriend, Clinton van der Nest. “Dan is daar nog die besigheid waar ons spesialiseer in huis-outomatisering en solar ook,” sê Imile.

Hy is nog nie seker wat sy volgende groot stap gaan behels nie, hy weet net hy het nog nie alles bereik wat hy wil nie. “Elkeen moet mos maar vir homself besluit wanneer is hy suksesvol,” filosofeer hy. Hy sit terug, dink ‘n oomblik en dan verklaar hy beslis: “Jare terug het ‘n lektor vir my gesê: ‘Stick to what you know. Stick to the basics.’ Dit werk. Dis soos kosmaak. As jy jou bestanddele verstaan, verstaan jy kos. Dis eenvoudig. Mense maak dinge altyd te complicated.”

Lees die oorspronklike artikel hier:

https://Akteur en sanger Willem Botha en Imile de Bruin tydens een van die feeste. Foto’s: Verskaf

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button