NewsNews

Beweging die fondasie van leer

Beweging by kinders is baie belangrik.

“Beweging by kinders is baie belangrik. Dit vorm die fondasie vir leer. Hierdie vaardighede is ook die grondslag vir meer komplekse bewegingsvaardighede wat later nodig is vir fisieke fiksheid, georganiseerde sport en ontspanning.”
So gesels Kariena Nolte, ’n kinderkinetikus wat kort voor die staat van nasionale inperking Parys haar tuiste gemaak het.
Kinders is haar lewe en passie. “Ek weet dit is my roeping van Bo, en wat God wil hê ek moet doen,” sê sy.
Met graad 11-leerders en matrikulante wat nou op die drumpel van loopbaankeuses staan, vertel Kariena meer oor haar beroep:

Wat behels kinderkinetika?
Kinderkinetika is ’n wetenskaplik gebaseerde bewegingsprogram met die fokus op optimale ontwikkeling van kinders. Die program bied ook die geleentheid om onderliggende probleme wat die normale ontwikkelingsproses van kinders mag strem, te identifiseer en vroegtydig reg te stel.
Die program word dan terapeuties, voorkomend en/of bevorderend aangebied om by die spesifieke behoeftes van die kind aan te pas, soos deur ’n wetenskaplike evaluasie bepaal.
Kinderkinetika fokus op pret en speel.
Die kinderkinetikus monitor die kind en evalueer sy/haar motoriese vaardighede om vas te stel of die kind op sy/haar ontwikkelimgsvlak funksioneer. Sodoende kan vroegtydige remediërende hulp gebied word.
Die doel van die stimulasieprogram is om die kind tot skoolgereedheid te begelei sodat fisieke uitdagings en groot motoriese bewegings met sukses hanteer kan word om skoolprestasie te verbeter.
Remediërende lesse fokus op kinders se individuele en spesifieke behoeftes. Baie kinders sukkel byvoorbeeld met aandagafleibaarheid, hiperaktiwiteit, lae spiertonus, obesiteit en balans. In haar beroep sien Kariena gereeld hoe groot motoriese agterstande ’n realiteit in die samelewing is weens onvoldoende speelruimte, werkende ouers, onveilige omstandighede en onvoldoende stimulasie. Dit lei dan weer tot akademiese-, emosionele-, gedrags- en sosiale probleme. Kinderkinetika programme is juis ontwerp vir optimale motoriese ontwikkeling van elke kind deur deelname aan wetenskaplik saamgestelde en goedbeplande fisiese aktiwiteite, aangepas vir elke kind se behoefte, ouderdom en ontwikkelingsvlak.
Die eerste jaar van ‘n kind se lewe is hulle baie afhanklik van speel. Baie ontwikkeling vind in die eerste 7 jaar plaas. Ontwikkeling soos basiese motoriese vaardighede – en dit dien weer as basis vir emosionele-, kognitiewe-, perseptuele-, sosiale-, fyn motoriese-, skolastiese- en sportvaardighede.
Dit alles vind in sekere geleentheidsvensters plaas. Kinders is dan meer vatbaar vir stimulasie vir optimale vaardigheidsontwikkeling. Die geleentheidsvenster vir groot motoriese ontwikkeling maak voor geboorte oop en bly oop tot 7 jaar, sê Kariena. Daarna word dit moeiliker om die basis van sekere groot motoriese vaardighede te bemeester. Teen ongeveer 5-jarige ouderdom is 50% van kinders se leerpotensiaal reeds bevestig. Navorsing bewys dat motoriese ontwikkelingsagterstande op 5-jarige ouderdom verband hou met leerprestasie, veral wiskunde en leesvaardighede, en gedragsafwyking wat hiermee gepaard gaan is aandagafleibaarheid en passiwiteit.

Hoogtepunte in haar loopbaan:
“As ek vir ‘n lang periode met ‘n kind sou werk wat byvoorbeeld as baba sukkel om te kruip, en dit dan eendag net regkry, is dit beslis ’n hoogtepunt vir my.” Maar dit wat Kariena die meeste sal bybly is ‘n gestremde dogtertjie met wie sy gewerk het wat na ’n tyd ’n potlood kon optel en reg vashou, en ’n kind wat voorheen net neergeval het, wat sy kon leer om reg te gaan sit.

Hoe lyk haar tipiese dag?
Kariena besoek skole waar groepsgebaseerde lesse aangebied word, maar doen ook ontwikkelingsprogramme in groepsverband en individueel by haar praktyk. Hierbenewens is daar ook die remediërende lesse wat sy aanbied en sportontwikkeling waar sy kinders help met meer spesifieke sporttegnieke.

Met watter uitdagings kry sy te doen?
Verskillende tipes kinders en verskillende uitvalle bied vir haar in haar beroep konstante uitdagings. So ook kinders wat verskillend reageer op sekere aktiwiteite.

Waar studeer ’n kinderkinetikus?
Jy kan aan die Noordwes- Universiteit, Universiteit van die Vrystaat en Stellenbosch Universiteit studeer.

Oor watter persoonlike vaardighede en belangstellings moet ’n kinderkinetikus beskik?
Jy moet ‘n aanvoeling hê om met kinders te kan werk. “Geduld, geduld, geduld is die belangrikste, want kinders vat kanse,” is Kariena se raad.
En dan is kreatiwiteit beslis ’n groot voordeel in haar beroep.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button