NewsNews

Anderkant die donker oë

Anderkant die donker oë

Haar lag kom nie tot by haar donker oë nie. Dit is asof iemand die lig daarin afgesit het. Haar ingesonkte wange en merkies op haar vel vertel ‘n storie van ‘n lang tyd se dwelmmisbruik, van opgebruik en gebruik word.

Sy is 33 jaar oud en ’n mamma van drie pragtige kinders, waarvan nie een meer by haar woon nie.
“Dit is vir hulle wat ek wil ophou dwelms gebruik, ek wil hulle so graag terug by my hê. My ouers het ook alkohol misbruik toe ek ’n kind in die huis was en ek het myself belowe om nooit eendag my eie kinders daardeur te sit nie.” Sy begin huil, haar stem skaars hoorbaar deur die trane. “Ek gaan ook nie dat hy my meer slaan nie,” ek sien die blou merke op haar arms, ek onthou van ‘n keer wat haar neus ook gebreek was. “Is dit vir jou moontlik om op te hou?” vra ek. “Ja dit is, ek is nie regtig verslaaf nie.”

Ek hoor die ontkenning in haar stem. Innerlik wonder ek oor die 16 jaar se dwelmmisbruik en of dit regtig so maklik is om net op te hou. “Eet jy darem?’ vra ek besorg. “Ek eet baie, maar voel of ek nooit vol raak nie, ek eet sommer vyf keer na mekaar…”.
“Ek dink ons moet jou by ‘n dokter kry, en as jy wil kan jy by ons by die Deurgangshuis kom bly. Jy sal veilig wees hier,” probeer ek help en hoop gee. “Dankie tannie, ek gaan daai man nou los en my lewe verander.” Alles in my wil haar so graag glo, ek sien die gesiggies van haar twee pragtige ontwrigte seuntjies voor my en alles in my wens dat dit hierdie keer die laaste keer sal wees. Anderkant haar donker oë is daar hoop vir ‘n beter môre vir haar en haar kinders.

Navorsing toon dat dwelmmisbuik geweldig toeneem, ook in ander wêrelddele. Dit veroorsaak ontstellende verwoesting in gemeenskappe en het ook negatiewe gevolge vir die geestelike en fisiese welsyn van mense. Die gemiddelde ouderdom wanneer kinders met dwelms begin eksperimenteer is 12 jaaar en selfs jonger. In Gauteng wissel die ouderdomme van mense wat behandeling ontvang tussen 9 en 82 jaar. Suid-Afrika val onder die top 10 dwelm- en alkoholmisbruikers in die wêreld. Ongeveer 8 787 persone is gedurende 2016 in rehabilitasiesentrums opgeneem, teenoor die 10 047 persone in 2017, en die syfers styg steeds. Dit is egter hartseer dat nie almal rehabilitasiesentums kan bekostig nie en dan op lang waglyste geplaas moet word om wel hulp te kan kry. Sommige kry nooit hulp nie en raak nooit deel van die statistiek nie. Junie is Dwelm Afhanklikheidsmaand. Daardeur wil bewusmaking en beter begrip bevorder word vir afhanklikheid en vier ons ook die mense wat wel dwelmafhanklikheid oorkom het. As deel van hierdie bewusmaking gaan geel strikke om bome in die dorp gebind word om mense te herinner aan diegene wat steeds in ‘n greep van dwelmafhanklikheid gewikkel is.

Verslawing word medies as ‘n siekte erken en dit is ook medies bewys dat sekere mense weens hulle genetika meer geneig is om ‘n verslaafde te word. Soveel as 95% van mense wat sukkel met verslawing, ly ook aan ‘n ander geestesgesondheidstoestand soos depressie of bipolariteite wat aandag moet kry. Nogtans vra verslawing nie oor klas, kleur of geslag nie.
‘n Dwelmmiddel is enige chemiese middel, wettig of onwettig, natuurlik of sinteties, wat ‘n farmakologiese uitwerking op die persoon se geestestoestand (psige) het, indien dit gebruik word. Ons kry onder meer die volgende tipe dwelmmidels. Depressante (slaap of susmiddels), stimulante (gee energie en demp eetlus), hallusinogene (veroorsaak hallusinasies en verdraaiing van die werklikheid).
‘n Verslawing word gedefinieer as ‘n ongesonde verhouding met ‘n middel, of as gedrag wat die gemoed en gedagtes verander. Sodra iemand sukkel om hul daaglikse take sonder die gebruik van die middel te verrig, is dit ‘n sterk aanduiding van verslawing. Dit is nie nodig dat die persoon die middel eke dag gebruik of daagliks by die gedrag berokke is nie. Verslawing het te doen met oormaat en met die onvermoë om op te hou met die gedrag of gebruik van die middel.

Afhanklikheid word gediagnoseer wanneer die gebruiker voel hy of sy moet die middel gebruik om normaal te kan funksioneer, te spyte van die persoonlike, fisieke en interpersoonlike probleme wat daardeur veroorsaak word. Wanneer hierdie dwelm nie beskikbaar is nie, ervaar die persoon onttrekkingssimptome. Aanhoudende gebruik lei gewoonlik tot fisieke toleransie wat veroorsaak dat al hoe meer gebruik moet word om dieselfde uitwerking te kry.

Dwelmmisbruik en –verslawing vernietig talle gesinne en lewens. Erken dat jy ‘n probleem het en onthou dat die toestand behandelbaar is.
Kontak jou dokter, predikant of ‘n maatskaplike werker (SAVF maatskaplike werk kantoor in Carletonville/Fochville by (018) 786 1016/8) of jou naaste AA-groep wat graag saam met jou die pad wil stap. (Nico kan gekontak word vir Carletonville AA by 082 461 9627). SADAG se tolvrye 24–uur hulplyn kan ook gekontak word by 0800 12 13 14. Indien jy ‘n rehabilitasiesentrum oorweeg, maak seker dat dit ‘n geregistreerde plek is. Verkeerde plekke kan soms meer skade aanrig as wat dit help. Onthou dat solank jy asemhaal, daar altyd hoop is. God se krag is altyd sterkter as die houvas van die kwaad.

https://carletonvilleherald.com/33865/anderkant-die-donker-oe/

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button