News

Versorger dood nadat sy in gat val

‘n Versorger van die Dienssentrum vir bejaardes, Rosina Sepotokele (54), is Dinsdagmiddag, 16 Junie dood nadat sy in ‘n diep gat geval het.

‘n Versorger van die Dienssentrum vir bejaardes, Rosina Sepotokele (54), is Dinsdagmiddag, 16 Junie dood nadat sy in ‘n diep gat geval het. Die voorval het in ‘n motorhuis van ‘n bejaarde egpaar wat sy versorg het, plaasgevind.

Kol. Adéle Myburgh, kommunikasiewoordvoerder van die Noordwes polisie, sê die gat was soortgelyk aan die put waarin motorwerktuigkundiges staan wanneer hulle aan die onderkant van ‘n motor werk en was met water gevul wat ongeveer 40 – 50 cm diep was.

Na bewering het die voorval rondom middagete plaasgevind. Die egpaar het Rosina gesoek, maar kon haar nêrens kry nie. Hulle het om die huis geloop en na haar geroep en later weer in die huis gesoek. Daar was geen aanduiding dat sy in die motorhuis was nie, omdat die deur toe was. Hulle het haar later in die gat gekry en dadelik die nooddienste gebel wat haar op die toneel dood verklaar het. Kol. Myburgh sê omdat haar dood onnatuurlik was, het die polisie ‘n geregtelike doodondersoek aangevra.

Die adjunk-direkteur van die Dienssentrum, dr. Sanet Jansen van Rensburg, sê dat die personeel van die Dienssentrum en die egpaar baie geskok en hartseer oor die voorval is. Sy vertel dat Rosina die afgelope twee weke by die egpaar begin werk het en dat hulle besonder geheg aan haar was en na haar as ‘n engel verwys het. Die personeel van die Dienssentrum het Rosina as ‘n “people’s pleaser” beskryf en gesê dat sy baie lief vir mense was.

Sanet sê dat almal nog probeer sin maak uit dié fratsongeluk, want Rosina was van die gat bewus en het al ‘n paar keer saam met die egpaar verby die gat geloop. Rosina werk al die afgelope drie jaar as ‘n versorger by die Dienssentrum.

Rosina laat ‘n seun, Katlego (25), en ‘n dogter, Celinah (16) agter.  Celinah is ‘n leerling van Promosa Secondary School.

Die Dienssentrum-personeel dra hulle innige simpatie aan Rosina se vriende en familie oor. Begrafnisreëlings van Rosina sal later eers gefinaliseer word.

https://potchefstroomherald.co.za/74361/versorger-dood-nadat-sy-in-gat-val/

Related Articles

Back to top button