News

Lees saam: Die kameelperd en die jakkals

Lees saam: Die kameelperd en die jakkals

Die liefde vir lees is een van die belangrikste en kosbaarste vaardighede wat jy jou kinders kan leer. Daarom het Parys Gazette hande gevat met die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog om voortaan gereeld tweeweekliks ‘n storie te publiseer wat kinders, maar ook ouers sam met ons kleiner kinders kan lees. Jy kan daarom voortaan uitkyk vir hierdie stories op Saterdae en Sondae op Parys Gazette se webtuiste. Hier is vandag se storie:

 

Die kameelperd en jakkals

Lank, lank gelede was daar ’n kameelperd en ’n bakoorjakkals wat baie goeie vriende was. Hulle was albei baie goed met steel, en het saam baie kattekwaad aangevang.

 

Op ’n dag voel Jakkals honger. “Kom, ou maat,” sê hy vir Kameelperd. “Kom ons steek die rivier oor en gaan steel kos op die plaas daar oorkant.”

 

“Blink plan!” sê die kameelperd en lek sy lippe af. “Ek’s lus vir ’n sappige waatlemoen.”

 

Die kameelperd en die jakkals steek toe die rivier oor. Die jakkals hou styf aan die kameelperd se lang nek vas, want hy kan nie swem nie.

 

Aan die ander kant van die rivier maak die slim jakkals met sy skerp tande ’n gat in die boer se draadheining. Toe wriemel die jakkals en die kameelperd stilletjies deur die gat in die draadheining om kos aan die ander kant te gaan steel. Die jakkals steel vyf eiers uit die hoenderhok en die kameelperd eet ’n lappie blaarslaai op. Hy wil net aan ’n sappige waatlemoen begin eet toe die jakkals sy snoet lig en begin tjank.

 

 

“Sjjjjj,” sis die kameelperd en spoeg stukkies waatlemoen oor die jakkals uit.

 

“Wat bedoel jy, ‘sjjjj’?” vra die jakkals en vee sy snorbaarde af. “Ek sing altyd wanneer ek klaar geëet het. Dis my manier van doen.”

 

“Wel, wag totdat ek my waatlemoen klaar geëet het,” sê die kameelperd al knarsende. “Anders gaan die boer jou hoor en ons kom wegjaag.”

 

Die jakkals is moeg gewag. Hy lig weer sy snoet en begin sing, “Auwoooooooo!”

 

Die boer is besig om middagete te eet toe hy die jakkals hoor tjank. Hy hardloop buitentoe met sy groot stok. Die jakkals sien hom aankom, en omdat hy baie vinnig is, skiet hy deur die gat in die heining en is skoonveld voor die boer hom kan sien.

 

Die arme kameelperd staan egter met sy voorpote wyd uitmekaar en probeer die laaste stukkie van sy waatlemoen geniet. Toe hy die boer sien aankom, probeer hy opstaan en weghardloop, maar sy bene raak ineengestrengel en hy val om.

 

“Moet nooit, ooit weer van my steel nie!” skree die boer, en slaan die kameelperd met sy stok.

 

Toe die kameelperd uiteindelik ontsnap, is sy hele lyf vol kneusplekke, en hy is woedend kwaad vir die jakkals. Hy hink tot by die rivier waar die jakkals onder ’n bos lê en slaap.

 

“En jy noem jouself ’n vriend!” skree die kameelperd en maak die jakkals wakker. “Dis oor jou gesingery dat ek pimpel en pers geslaan is.”

 

“Moenie kwaad wees nie,” sê die jakkals. “Ek het jou gesê ek sing altyd wanneer ek klaar geëet het. Kom ons steek nou die rivier oor en gaan huis toe.”

 

Die jakkals hou aan die kameelperd se nek vas en die kameelperd swem die rivier in. Toe die kameelperd by die diepste deel van die rivier kom, sê hy vir die jakkals: “Ek gaan nou bad. Ek voel warm en sweterig na daardie pak slae.”

 

“Jy kan nie!” sê die jakkals en staar met uitpeuloë na die kameelperd. “As jy onder die water ingaan, sal ek verdrink! Ek kan nie swem nie!”

 

“Maar ek moet bad,” sê die kameelperd. “Dis my manier van doen.” En daarmee duik die kameelperd onder die water in. Die jakkals spat en spartel om kop bo water te hou.

 

“Help! Help! Ek verdrink!” skree die jakkals.

 

Die kameelperd is kwaad oor sy pak slae, maar dit voel aaklig om die jakkals so in die water te sien rondspartel. Die jakkals is darem tog sy vriend. Die kameelperd druk sy kop onder die water in en gebruik dit om die jakkals tot op sy nek te lig. Die jakkals hoes en proes en klou met alle mag en geweld aan die kameelperd vas.

 

Toe hulle aan die ander kant van die rivier kom, dink die jakkals oor dit wat hy aan sy vriend gedoen het. “Kameelperd?” sê hy sag.

 

“Ja, Jakkals,” antwoord die kameelperd.

 

“Ek is jammer dat ek jou so sleg behandel het. Ek besef nou dat dit wat jy aan my gedoen het, was oor ek jou vroeër so sleg behandel het,” sê Jakkals.

 

Kameelperd knik. “Dit was,” sê hy. “Ek het jou terugbetaal vir wat jy aan my gedoen het.”

 

“Jammer,” sê die jakkals.

 

En so het die jakkals en die kameelperd geleer dat dit belangrik is om ander te behandel soos jy behandel wil word, en van daardie dag af het hulle dit altyd gedoen. En tot vandag toe is hulle steeds beste vriende.

Hierdie storie is goedgunstiglik voorsien deur die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog. Om hierdie storie ook in ‘n ander SA taal te lees, of vir ander geletterdheids aktiwiteite, leeswenke en meer stories wat jy saam met jou kinders kan geniet, besoek www.nalibali.org of kyk ook op Facebook of Twitter by @NalibaliSA

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button