News

Geen kits antwoord vir beurtkrag-krisis

Geen kits antwoord vir beurtkrag-krisis

Parys se kragkrisis het Vrydag ’n krisispunt bereik toe verhoogde kragverbruik weens die snerpende koue temperature wat landwyd gevoel is, veroorsaak het dat beurtkrag dwarsdeur die dag toegepas is en die hele dorp geraak is.
Voor Vrydag is munisipale beurtkrag hoofsaaklik soggens en saans toegepas tydens hoër elektrisiteitsverbruiks-ure met twee beurtkragroosters wat afwisselend toegepas is tot ’n maksimum van twee ure beurtkrag.

Dit het egter ’n enorme impak op besighede, huishoudings, mense op suurstof, en selfs studente wat aanlyn take en assesserings moet af1ê binne tydsbeperking.

Boonop blyk dit dat daar geen kitsoplossing vir Parys se kragkrisis is nie.

Daar is uiteindelik wel Woensdag aangedui dat Ngwathe saam met Eskom se tegniese span nou ‘n meer duidelike rotasie beurtkragskedule saamgestel het en sal Gazette dit publiseer sodra dit beskikbaar gestel is.

 

Maar wat is die rede vir die beurtkrag en hoe is dit tot Woensdag 17 Junie toegepas?
Rdl. Philip van der Merwe van die VF Plus, verduidelik dat die probleem wat Parys ervaar prakties vergelyk kan word met wat gebeur wanneer ’n vragmotorband se drukperk oorsky word. Die band word ontwerp en vervaardig om ‘n sekere druk te kan weerstaan en ‘n bepaalde vrag te kan dra. Word die drukperk oorskry, sal die band eenvoudig bars. Indien ‘n groter vrag dus vervoer moet word as dié waarvoor die band ontwerp was, moet ‘n groter/sterker band gebruik word.
Dieselfde is waar van elektriese substasies. Hulle word ontwerp en gebou om ‘n bepaalde lading te kan hanteer. Word die lading oorskry, sal die transformator eenvoudig ontplof. Om dit te verhoed moet kragverbruikers (ook munisipaliteite) vooraf, wanneer aansoek gedoen word vir lewering van krag deur ‘n verskaffer soos Eskom, bepaal word wat die maksimum lading sal wees wat op enige gegewe tydstip deur die transformator gelei sal moet word.
Die kragvoorsiener ontwerp en bou dan ‘n substasie met voldoende kapasiteit om te voorsien in die maksimum behoefte van die verbruiker. Sou die verbruiker se behoefte vergroot en meer krag benodig word as wat die substasie kan lewer, moet die verbruiker met die kragvoorsiener ooreenkom om die kapasiteit van die substaie te vergroot tot die nuwe verlangde kapasiteit om te verhoed dat die bestaande substasie deur oorlading beskadig word.
Eskom, soos almal reeds weet, ondervind soms dat hy nie genoeg krag kan opwek om op ‘n gegewe tydstip in die hele land se aanvraag te kan voorsien nie. Die probleem lê dan nie by substasies se kapasiteit nie, maar by Eskom se kragopwekkingsvermoë. Om die probleem te oorbrug deel Eskom dan eenvoudig die land in blokke op, en sny op rotasiebasis van die blokke se kragtoevoer vir bepaalde tye. Dit is dan ook moontlik om by die skedule te hou.

Wat beteken dit vir Parys?
Wat die afgelope tyd (voor verlede Donderdag) in Parys gebeur het, is egter nie so eenvoudig nie. Parys gebruik tans op gegewe tye (maar nie deurlopend nie) meer krag as wat die kapasiteit van die substasie kan lewer. Dit veroorsaak oorlading van die bestaande transformator tot die vlak waar dit eenvoudig nie die lading verder kan hanteer nie, en is dit ook waarom die substasie ‘n ruk gelede “ontplof het”.
Die enigste blywende oplossing vir die probleem is om die kapasiteit van die substasie sodanig te verhoog dat dit in die huidige verhoogde aanvraag kan voorsien.
Eskom is egter nie geneë daartoe nie, tensy Ngwathe munisipaliteit sy totale uitstaande rekening by Eskom vereffen, wat tans prakties eenvoudig nie haalbaar is nie, omdat die skuld so enorm is.
Dit kan ook aanvaar word dat geen ander instansie op hierdie stadium die geld om Eskom te kan betaal aan die munisipaliteit sal leen of skenk nie.

Ngwathe se Eskom-skuld
Die munisipaliteit het ‘n afbetalingsooreenkoms met Eskom in plek wat tans nagekom word, maar Eskom vereis desnieteenstaande eers volle betaling van die algehele uitstaande rekening voordat onderhandel kan word oor die vergroting van die kapasiteit van die substasie. Eskom dreig ook om die kragtoevoer na die munisipaliteit in totaal te staak indien die munisipaliteit weer meer elektrisiteit verbruik as wat die substasie se kapasiteit is, en dus die substasie met vrag oorlaai.
Hierdie houding van Eskom noop die munisipaliteit tans om self maatreëls te tref om verbruik binne die kapasiteit van die substasie te hou.
Van der Merwe sê dat hy en die Vryheidsfront Plus al jare waarsku daarteen dat munisipaliteite voortdurend nuwe woon- en sakeuitbreidings ontwikkel en by netwerke aansluit sonder om vooraf of minstens terselfdertyd grootmaatdienste-infrastruktuur op te gradeer. “Die dag wat nou vir Ngwathe aangebreek het, het ons lankal voorsien.”

Hoe werk munisipale beurtkrag?
Die antwoord hierop was (tot voor verlede Donderdag – voor die koue front) egter nie so eenvoudig soos Eskom se beurtkragmaatreëls waar spesifike blokke eenvoudig op gegewe tye afgeskakel word nie.
Die rede hiervoor is dat die aanvraag na krag vir groot gedeeltes van die dag wel binne perke van die kapasiteit is, en beurtkrag dan nie nodig is nie. Dit is sinloos om dan ‘n gebied se krag te sny terwyl krag eintlik vir almal beskikbaar is.
Die probleme ontstaan egter wanneer die aanvraag na krag ekstra groot is. Dit gebeur normaalweg van ongeveer 17:00 tot 21:00, en van 06:00 tot 08:00 daagliks, maar ook nie noodwendig deurlopend gedurende die periodes, of daagliks volgens dieselfde patroon nie.
Die munisipaliteit moes gevolglik tans die aanvraag deurlopend monitor sodat sommige verbruikers afgeskakel kan word sodra aanvraag dreig om die substasie kapasiteit te oorskry ten einde oorlading en die inwerkingstelling van Eskom se dreigende sanksie te verhoed.
Sodra die aanvraag dan weer daal kan die betrokke verbruikers ook weer aangeskakel word. Sou daar dus bloot “blokke” ingedeel word wat op “gegewe vaste tye” afgeskakel word, sou dit gebeur dat verbruikers moontlik sonder krag sit terwyl daar eintlik wel krag beskikbaar is.
Daar moet ook in gedagte gehou word dat krag deurentyd beskikbaar behoort te wees vir noodsaaklike dienste, soos die watersuiweringswerke, rioolwerke, hospitaal ens. Omdat hierdie plekke nie individueel met krag gevoer word nie, maar inteendeel deel vorm van ‘n stuk van die netwerk, kan hulle ook nie alleen aangeskakel bly nie. Die hele gedeelte van die netwerk waarby hulle ingeskakel is, moet noodwendig van krag voorsien word.
Daarom dat sommige gedeeltes van Parys dan min of glad nie geraak was deur die “beurtkrag” nie.

Hoekom nie vooraf skedules beskikbaar stel nie?
Wat die elektriese departement toe probeer doen het was om geen toevoer te sny tensy die maksimum kapasiteit van die substasie op die punt van oorlading staan nie.
Die aanvraag wissel egter sodanig, selfs in piektye, dat dit moeilik is om ‘n vaste skedule daar te stel tensy krag eenvoudig op bepaalde tye gesny word, ongeag wat die aanvraag dan is.
Die keuse is dus tussen die beskikbaarstelling van vaste skedules waartydens krag gesny sal word (ongeag of die aanvraag gedurende die periode te groot is of nie) aan die een kant, en die ongeskeduleerde sny van krag (maar dan net vir periodes waar aanvraag aanbod werklik sal oorskry en dus ongereelde tye) aan die ander kant.
Vanaf Vrydag 12 Junie beleef ons ‘n erge koue front. Aanvraag is nou so groot dat “beurtkrag” deurentyd toegepas moet word. Gebiede word dan deurlopend op rotasiebasis afgeskakel, selfs in nie-piektye. Die probleem is dat daar weens die dramaties verhoogde aanvraag nou omtrent deurentyd nie genoeg krag beskikbaar is om almal te voorsien nie. Selfs gebiede wat voorheen oorgesien kon word (waterwerke, rioolwerke, hospitaal ens.) moet nou gesny word om almal ten minste vir ‘n gedeelte van die dag van krag te kan voorsien.

Die oplossing?
Rdl. Van der Merwe meen die enigste oplossing tans is dat Eskom deur die regering gedwing word om meer toegeneë te wees teenoor munisipaliteite en hul skuldlaste.
“Soos die regering Eskom telkens uithelp, moet Eskom op sy beurt munisipaliteite uithelp.”
“Wat vasstaan is dat Parys se kragprobleme (wat terloops ook in ander Ngwathe dorpe wink omdat almal meer krag gebruik as waarop ooreengekom is met Eskom) nie oornag gaan verdwyn nie. Ek is van mening dat ‘n oplossing tans net op parlementêre vlak gevind sal kan word en bevestig dat die Vryheidsfront Plus daarmee besig is.
Wat kan jy doen om te help?
Sit bedags jou geiser en nie-noodsaaklike elektriese toestelle af. Dit sal beslis help om die verbruik te verminder sodat minder beurtkrag nodig sal wees.

Related Articles

Back to top button