News

Totius-akademie se deure sluit permanent

Totius-akademie se deure sluit permanent

Na 24 jaar is die Totius-Akademie, die Afrikaans Christelike privaatskool op die Bult, genoodsaak om sy deure permanent te sluit. Die finansiële krisis wat die korona pandemie veroorsaak het, is die grootste oorsaak vir dié besluit, sê Gene Claassen, wat ‘n lid van die skool se beheerliggaam was.

Die skool met sy twintig leerlinge, drie onderwysers en hoof was te klein om die verlies aan inkomste tydens die inperkingstydperk te dra. Verder was die skoolhoof, Magda Pelser van der Merwe, se aftrede in April ook ‘n groot terugslag. Sy was genoodsaak om weens gesondheidsredes af te tree. Gene was een van die eerste leerlinge van dié skool toe dit in 1996 deur ‘n vereniging van ouers en belangstellendes gestig is om die beginsels van Gereformeerde onderwys op alle vlakke te bevorder.

Die skool se eerste naam was die Potchefstroomse Gereformeerde Akademie en was vir ongeveer die eerste 10 jaar in die kategeselokale van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom geleë, voordat dit na die huidige geboue op die hoek van Molen- en Esselenstraat toe oorgeskuif het.

Die skool se naam is in 2001 na Totius-Akademie verander, ter nagedagtenis aan die Potchefstroomse digter-teoloog, prof. J.D. du Toit, wat ‘n voorstander van Gereformeerde onderwys was. Die Totiushuismuseum op dieselfde terrein, suid van die skool, was die eertydse woonhuis van Totius toe hy hoof van die Gereformeerde Kerk se teologiese skool was.

Die Totius-akademie se wapen.

Die skoolgebou wat die Totius-Akademie gehuisves het, is ‘n nasionale gedenkwaardigheid. Dit is in 1907 opgerig en het destyds as die Ou Voorbereidende Skool bekend gestaan. Dit was ‘n onafhanklike skool waar leerlinge vir universiteitstudie voorberei is – studente wat later by die Teologiese Skool, die gebou suid van die Totiushuismuseum, sou inskakel. Die Potchefstroom Gimnasium Hoërskool het later uit die Voorbereidende Skool ontstaan.

Leerlinge van die Totius-Akademie is reeds ingelig dat hulle nie langer hier sal kan skoolgaan nie. Vir almal was dit ‘n groot teleurstelling, want hier het hulle kwaliteit onderrig in ‘n veilige omgewing met persoonlike aandag geniet.

Drienie Groenewald wat vir 16 jaar in die kantoor gewerk het, sê die sluiting van die skool is baie hartseer omdat die personeel en kinders altyd vir haar soos haar familie gevoel het. Twee van haar kleinkinders was ook in die skool. “Die skool was baie spesiaal omdat die akademiese standaard hoog was, die onderwysers spesiale aandag aan die kinders kon gee en ‘n belangrike Christelike grondslag vasgelê het,” sê Drienie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button