NewsNews

Inperking skep entrepreneurs

Van woordkuns na tekstielkuns

Inperking het ons almal hard geslaan. Sommige mense kon vir maande nie ’n salaris verdien nie. Baie het hul werk verloor. Maar as die nood druk, moet mens soos ‘n entrepreneur begin dink.
Toe Caxton hul tydskrif-divisie toemaak, het oud-Parysenaar, Martie Swanepoel, ook haar bron van ekstra inkomste verloor. Sedert sy twee jaar gelede as dosent aan die Pearson Institute afgetree het, het sy haar pensioen met skryfwerk vir Rooi Rose aangevul. Sy skryf al 11 jaar vir hulle, en agt aanlyn-novelles uit haar pen het al op hul webblad verskyn.
“Ek was so twee dae hartseer, maar toe bedink ek ‘n nuwe plan. Dagdrome is wonderlik, maar om dit in aksie te stel, verg dissipline. Ek het geweet mense hou van my tekstielkuns en ek kan dit in ‘n aanlyn-besigheid omskep. Ek het dadelik aan die werk gespring en twee weke na ek my werk verloor het, het ek my nuwe besigheid geopen.”
Sy het haar navorsing gedoen en haar produk op ‘pasaangeërs’ in die mark getoets. Weens haar ervaring in die tydskrifindustrie, weet sy mens moet die regte teikenmark, produk en verspreidingsveld kies. ‘n Aanlyn-winkel het haar die beste gepas aangesien sy baie reis.

Martie Swanepoel wat glo dat elkeen ‘n entrepreneur kan wees.

“Ek wil my besigheid op my skootrekenaar saam met my kan neem. As mens in hierdie tye ‘n nuwe besigheid wil begin, kan dit nie duur, luukse artikels wees nie. Maar mense wil tog nog mooi goed koop. Ek het besluit om op handgedrukte serpe, kussings, tafellappe en servette te konsentreer.”

Martie woon deesdae op ‘n natuurbewaringsplaas in die Gouwsberge in Mpumalanga en gebruik natuurlike blare om op katoen en linne te druk.
Binne die eerste uur wat sy haar aanlynwinkel, Martaki, geopen het, het sy produkte begin verkoop. Sy koerier dit na die kopers en versprei reeds na twee Kaapse winkels.
“As mens iets nuut begin, moet jy navorsing doen en jou veld ken. Ek het op Facebook by talle plaaslike dorpe se groepe aangesluit en ook ‘n professionele Facebook-blad en Instagram-blad geskep. Jy moet die regte mense na jou blad nooi en gereeld na jou blad kyk. Opvolgwerk en administrasie is belangrik. Jy moet etikette, besigheidskaartjies en verpakking laat druk.”
Haar raad is dat jou produkte nie te duur moet wees nie, maar dat jy steeds wins moet maak. Jy moet verpakking, koerierkoste, die koste van materiaal en elektrisiteit bereken.
“Ek het gelukkig kiste vol katoen en linne op die plaas gehad en kon tydens inperking begin werk. Ek woon 50km van die naaste dorp en moet deeglik beplan. Gelukkig kom die meeste van my bestanddele uit die natuur om my. Ons woon in die berge en ek weet al watter blare werk die beste vir my proses.”

Ja – daar is baie moedelose mense wat sonder inkomste sit. Nie alle planne werk nie. “Ek het nog altyd my salaris met ‘n ekstra inkomste aangevul en weet mens maak baie ‘flops’ langs die pad. Ek het al stalletjies by talle markte en feeste gehad en die geheim skuil by die regte produk en prys. Dit moet iets prakties wees of iets klein wat mense kan bekostig.”
Sy beveel aan dat mense eers na ‘n klompie You Tube video’s oor ’n moontlike vervaardigingsproses moet kyk. “Pinterest en Facebook wemel van die idees. Maak seker joune is uniek. Almal maak byvoorbeeld nou maskers. So jy moet aan iets dink wat oulik is wat niemand anders maak nie. Kyk wat word in jou omgewing verkoop sodat jy nie ‘n produk maak wat tientalle ander ook maak nie.”

Elkeen kan ‘n entrepreneur wees, glo sy. Mens kan klein begin.

“’n Aanlynwinkel kos jou die minimum. Jy moet net jou huiswerk doen en dit goed administreer.” Sy het by kenners raad gevra en soveel gelees wat sy kan.
“Moenie te lank sit en dagdroom oor al die geld wat jy gaan maak nie. Spring aan die werk. Die proses wat ek gebruik om my lappe te druk en kleur is tydrowend en harde werk, maar ek geniet dit en ek weet dit is uniek. Ek is bereid om die ekstra myl te loop om my besigheid te laat werk. Jy kan dit ook doen!”
Jy kan haar op Facebook volg by Martaki, haar Instagram-blad is @martaki.lappe, of entrepreneurs kan haar epos by martaki.lappe@gmail.com

Related Articles

Back to top button