NewsNews

Kaartboewe trek duisende uit pensioenaris se bankrekening

Kaartboewe trek duisende uit pensioenaris se bankrekening

Enkele minute nadat kaartboewe Oom Stoffel Reynders van Meyerton se bankkaart by ’n OTM in die middedorp gesteel het, is sowat R13 000 uit sy rekening onttrek.
Oom Stoffel wil ander inwoners waarsku sodat hulle nie met dieselfde slenter gevang word nie.
Hy sê hy was Maandagoggend, 25 Mei net na tien by die OTM voor Pick n Pay in Meyerton om geld te trek.
“Ek het in ’n ry gestaan. Die man voor my het die bank gebruik en toe hy klaar was, het hy op die hoek gaan staan.

“Toe ek by die OTM kom en my kaart in die gleuf druk, kom ’n ander man en stamp my van die kant af.
“Dit was net so zoep, toe het hulle die kaart en is hulle net weg. Dit was so vinnig. Ek was so verbaas.
“Ek het nog gedink ek het die kaart in my hand, toe is hy weg,” vertel hy.
Volgens Oom Stoffel het ’n vrou wat agter hom gestaan het bevestig dat die boewe sy kaart gesteel het.

“Die vrou het my vertel dat sy ook onlangs met dieselfde slenter gevang is en dat hulle toe R7 000 uit haar rekening gesteel het,” sê hy.
Volgens Oom Stoffel het hy toe die bedrogafdeling gebel om sy kaart te laat stop, maar ongelukkig was dit te laat.
Oom Stoffel se bankstate wys dat die kaartboewe binne ’n paar minute drie keer geld uit sy rekening onttrek het.
Met die eerste transaksie is ’n bedrag van R3 000 omstreeks 10:32 uit die rekening onttrek. Om 10:33 is ’n verdere bedrag van R1 000 en om 10:34 ’n bedrag van R9 895.48 onttrek.
Nadat hy die kaart gestop het, is Oom Stoffel bank toe waar die bankbestuurder hom gevra het om te sit.
Dit is toe wat sy hom vertel het hoeveel geld hulle uit sy rekening onttrek het.

Oom Stoffel sê hy kan nie verstaan hoe dit kon gebeur het nie, aangesien hy ’n limiet van R1 500 op sy kaart gehad het.
Volgens hom het die bank ’n verklaring by hom afgeneem en ’n verwysingsnommer uitgereik. Hy sal maar moet wag en sien of hy dalk van die geld kan terugkry.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
https://vaalweekblad.com/64829/kaartboewe-trek-duisende-uit-pensioenaris-se-bankrekening/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button