News

Inwoners kla oor geraasbesoedeling

Potchefstroom – ‘n Voortgesette en oormatige geraas van die Tiger Brands fabriek in die industriële gebied het inwoners in die Suiddorp genoodsaak om die fabriek vir geraasbesoedeling aan te kla. Een van die inwoners, Sarel Eloff, wat vir 43 jaar in Pepplerstraat woon, sê die geraas het al in November 2019 begin. Hy het die …

Een van die inwoners, Sarel Eloff, wat vir 43 jaar in Pepplerstraat woon, sê die geraas het al in November 2019 begin. Hy het die fabriek in Desember geskakel om formeel ‘n klag in te dien, maar is aangeraai om dit aan die begin van Januarie 2020 te doen, omdat die fabriek in Desember gesluit het. Hy het op 4 Januarie ‘n e-pos aan Cornelius Mtshali gestuur wat die ontvangs van die brief erken het en dit ook aan ander personeellede, onder meer die fabrieksbestuurder en ‘n ingenieur, aangestuur het.

Mtshali het na ‘n klep aan die agterkant van die “ace plant” verwys en voorgestel om Momentum vir ‘n geraasopname te nader.

Intussen het die inwoners gewag dat die probleem opgelos moet word. Aan die begin van Mei het ‘n polisiebeampte die Herald gebel en gevra dat daar ondersoek ingestel moet word, omdat daar niks aan die geraasbesoedeling gedoen word nie. “Die geraas duur dag en nag voort. Ek werk skofte en is desperaat omdat ek nie kan slaap nie,” het hy gesê.

Ander inwoners het hulle ontevredenheid met die geraas op die Potchefstroom Facebookblad gedeel. Een daarvan was Magda Kroukamp wat op 4 Mei om 21:35 skryf: “Naand almal, ons bly in Chris Hanistraat. Ons hoor ‘n harde snaakse geluid buite. Kan dit nie beskryf nie, maar dis irriterend. Wie hoor dit ook?” Adelle Kock reageer op dieselfde boodskap en skryf: “Ja dit irriteer baie mense en Tiger Brands doen niks daaraan nie.”

Die Herald het daarna ‘n fabrieksbestuurder van Tiger Brands geskakel om te hoor of hulle van die klagtes bewus is. Hy het gesê dat hy niks daarvan af weet nie, maar dat hy sal ondersoek instel.

Inwoners het hulle klagtes aan raadslid Johan Zerwick oorgedra wat weer op sy beurt ‘n gesondheidsinspekteur van J.B Marks genader het. Thebe Gaonnwe, waarnemende bestuurder vir munisipale gesondheid van die Dr. Kenneth Kauda distrik munisipaliteit, is tans aangestel om die saak verder te ondersoek. Gaonnwe het die Herald verseker dat hulle eersdaags beplan om ‘n telefoniese onderhoud met die bestuur van Tiger Brands te voer en dat hulle dit later met ‘n skriftelike kennisgewing sal opvolg.

Die Herald het intussen Mariëtte Liefferink, die hoof uitvoerende beampte van “The Federation for a Sustainable Environment” gekontak, om meer agtergrond oor geraasbesoedeling te kry.

Sy sê dat geraasbesoedeling deel is van omgewingswetgewing wat in die grondwet vervat is. Die grondwet lê neer dat almal die reg het op ‘n omgewing wat nie skadelik vir hulle gesondheid en welstand is nie.

Liefferink sê dat geraasbesoedeling net so skadelik vir mense is as enige ander besoedeling. “Blootstelling aan voortgesette of oormatige geraas kan gesondheidsprobleme veroorsaak wat stres, swak konsentrasie, verlies aan produktiwiteit by die werk en uitputting weens ‘n gebrek aan slaap tot gevolg het. In meer ernstige gevalle kan dit lei tot kardiovaskulêre siektes, kognitiewe gebreke, tinnitus en gehoorverlies.”

Sy haal die Nasionale Omgewingsbestuurswet 107 van 1998 aan wanneer sy besoedeling verduidelik en sê dat besoedeling enige verandering in die omgewing is wat ‘n negatiewe uitwerking op die gesondheid en welstand van die mens het.

Verder verduidelik sy steurende geraas en sê dat dit volgens die geraasregulasies van 1998 verklaar kan word. “Steurende geraas in terme van die geraasregulasies van 1998 beteken die vlak van geraas oorskrei die omringende klankvlak wat deurlopend op dieselfde meetpunt van 7dBA gemeet word. Die dBA beteken die waarde van die klankdruk vlak in desibels. “Steurende geraas beteken enige geluid wat ‘n persoon se gemak en vrede versteur of belemmer,” sê Liefferink.

Gemeet aan Liefferink se verduideliking van geraasbesoedeling, is dit dus duidelik dat die Suiddorp aan geraasbesoedeilng blootgestel word.

Liefferink sê verder dat plaaslike gesag moet vasstel of die geraas bo die aanvaarbare norm is. Munisipale gesondheid is dus hiervoor verantwoordelik en moet ‘n skrywe rig aan die persoon/instansie wat die geraas veroorsaak waarin hulle aangespreek moet word om die geraas te stop of om die vlakke van geraas te verminder.

Die Herald het Tiger Brands vir kommentaar genader en gevra wat hulle beplan om die geraasbesoedeling op te los.

Mediawoordvoerder van Tiger Brands, Kanyisa Ndyondya, sê hulle het dadelik die klagte van die publiek opgevolg en het die departement van Arbeid se goedgekeurde inspeksieowerheid genader om ‘n omtrek geraasopname te doen.

“Die opname het aangedui dat ‘n hoër vlak van geraas (5 desibels hoër) in die nag by die oostelike kant van die fabriek voorkom, wat toegeskryf kan word aan die waaier wat by die area geïnstalleer is. Om die probleem op te los, het die fabriek se ingenieur ‘n knaldemper (silencer) by die waaier geïnstalleer.

Ndyondya sê verder dat hulle ‘n onafhanklike derde party met die nodige kundigheid en toerusting genader het om die situasie te evalueer en hulle verwag dat dit deur die loop van die week afgehandel sal wees. “Dit sal die fabriek in staat stel om die mees betroubare en akkurate inligting aan die aangrensende gemeenskap te verskaf.

Ndyondya sê verder dat Tiger Brands die gemeenskap bedank vir hulle volgehoue ondersteuning. Hulle verseker die inwoners ook dat hulle toegeweid is om die probleem op te los.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button