News

Plaas ons kinders eerste

Plaas ons kinders eerste

Sy naam is *Stefan en hy is 3 jaar oud en sy boetie 7 jaar.

Ek groet vriendelik maar dit is moeilik om te sien of hul agter hulle maskertjies terug glimlag. Ek wil ‘n drukkie deel, maar onthou van die Covid-19 se sosiale afstand reël wat vir my effens moeilik is om te respekteer. Hul maskertjies is opmerklik. Blou gehekelde maskertjies wat hul mamma self gemaak het omdat daar geen geld was vir vrolike kindervriendelike of eenvoudige maskers nie. Hul kleertjies oud, maar skoon, haartjies kort afgeskeer op hul koppies en ek wonder heimelik oor mussies vir die koue wat kom. Vandag is hulle ook honger en staan geduldig in die ry hul beurt en afwag.

Ek wens ek kan meer doen, maar ek het lank terug reeds geleer dat dit soms “okay” is om nie “okay” te wees nie, want dit leer mense ander dinge. Ek besef dat ons elkeen net ‘n stukkie moet bydra, want dit vat ‘n gemeenskap om ‘n kind groot te maak. Mamma maak die masker, die welsyn en kerk gee die kos, iemand anders help vir ‘n dak oor hul kop, nog iemand is vriendelik en laat hul ook menswaardig en belangrik voel.

Liewe Stefan ons gee om vir jou…
Hierdie jaar gaan daar meer gevra word van jou tydens Kinderbeskermingsweek wat op 31 Mei afskop met die tema “Kinders eerste”. Saam gaan ons moet verseker dat ons kinders versorg en beskerm word en dat daar vir hulle ‘n veilige, beskermende omgewing geskep word waarin hulle kan grootword. Om ons kinders te beskerm teen geweld en mishandeling is nie net ‘n basiese beginsel nie, maar ook ‘n duidelike verpligting op ons elkeen. Vanjaar gaan jy nie net kan wegdraai of verbystap of die radio harder kan sit wanneer bang kindersnikke gehoor word nie, want heel dikwels is kleuterskole en skole die enigste veilige hawe vir ons kinders.

Daar is dit die enigste plek waar hulle kan ontvlug, die enigste bord kos kan geniet of ‘n broodjie kan deel, waar ‘n omgee juffrou hul seer kan raaksien en help beskerm. Hierdie veilige hawe se deure is nou toe en word jy hul enigste oor wat kan luister en ‘n oog wat raaksien en hand wat kan uitreik om te help. Ek “google” weer die noodnommers en besluit om hulle een vir een laataand te skakel.

Ek begin doodtrek aan die lysie, want sommiges bestaan nie meer nie, ander neem lank voor daar geantwoord word en ‘n derde nommer kan my nie verstaan nie.
En ek word weer eens met die harde werklikheid gekonfronteer dat die sisteme ons kinders in die steek laat. Daarom nog meer dat die onus rus op ons as gemeenskap om ons kinders te help red. Ons durf nie ons rug draai nie.
Kinderregte word vervat en voorgeskryf in Artikel 28 van die Konstitusie van SA, asook in die Kinderwet (Wet No 38 van 2005). Ons by SAVF glo in die waardigheid en potensiaal van elke kind en beskerm kinders se regte ten alle tye, terwyl verantwoordelikhede daarmee saam aangemoedig word. Help ons om ons kinders te beskerm, want kinders se veiligheid is ons almal se besigheid!

Belangrike nommers waar jy hulp kan kry of ‘n saak kan aanmeld:
DSD 0800 428 428
DSD *120*7867#
SAPD 10111
SAVF (018) 786 1016/8

  • Skuilnaam

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button