NewsNews

NWU hou heel eerste virtuele gradepletigheid

NWU hou heel eerste virtuele gradepletigheid

Die virtuele gradeplegtigheid* het op 29 Mei plaasgevind. Dit het die toekenning van alle grade en uitreiking van diplomas ingesluit wat oorspronklik tussen 23 Maart en 22 Mei vanjaar aan gegradueerdes oorhandig sou word.

Die ontwrigting van hierdie spesiale toekenningseisoen deur die koronavirus kon nie die opwinding demp toe ’n totaal van 9 195 kwalifikasies toegeken en uitgereik is nie. Trotse gegradueerdes van al agt die fakulteite op al drie die NWU se kampusse het die vrugte van hulle harde werk gepluk. Die grade wat toegeken is, het 167 doktors-, 553 meesters-, 1 224 honneurs- en 4 992 baccalaureusgrade ingesluit. Die Klas van 2020 het ook 94 nagraadse diplomas, 1 439 diplomas en 726 sertifikate ontvang.

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, sê dat hoewel dit jammer is dat die koronavirus die NWU-gemeenskap in ’n situasie geplaas het waar die gradeplegtigheid nie persoonlik met die studente en hulle families gevier kon word nie, dit nie die oorweldigende gevoel van prestasie getemper het nie.

Hy sê dat die NWU-gegradueerdes die universiteit met ’n waardering vir diversiteit verlaat. “Gaan uit en gaan vier die diversiteit van die wêreld wat julle gaan betree.”

As gevolg van die pandemie betree die Klas van 2020 ’n wêreld wat deur niemand voorsien kon word nie. Dit is egter ’n wêreld vol geleenthede en die nuwe gegradueerdes is doelgerig soos geen ander geslag voor hulle nie.

“Ons by die NWU is vol vertroue dat ons by julle ’n visie geskep het om moontlikhede raak te sien.  Terwyl julle dit doen, laat ons almal dankbaar wees vir dit wat die Here ons in staat gestel het om te bereik,” het prof Kgwadi gesê.

Om prof Dan Kgwadi se boodskap aan die gegradueerdes en die gradeplegtigheidprogramme te sien, volg hierdie skakel: https://services.nwu.ac.za/student-academic-lifecycle-administration/ceremonies.

*Die virtuele seremonie het op Vrydag 29 Mei om 12:00 begin en is deel van die NWU se poging om die verspreiding van die koronavirus te voorkom.

 

Related Articles

Back to top button