News

Isolasie inspirasie: Wat ‘n week!

Isolasie inspirasie: Wat 'n week!

Gepantser met ons maskers, ‘hand sanitizers’ en elke moontlike plan om te hou by die streng reëls en regulasies wat neergelê is om die gogga in die bek te ruk by ons plaaslike laerskool, het ons soos almal Maandagoggend in die ry geval om die skool binne te gaan.
Twee polisiebeamptes het die koors skandeerder beman, en het geen geheim daarvan gemaak dat hierdie twee uitlanders behoorlik nagegaan sal word voordat hulle mag ingaan. Koors is gemeet en met die waai van sy hand het hy ons in ’n rigting ingestuur.
Dinge het vir die res van die week nie so vlot verloop soos wat ons gehoop het nie.
Verward, onseker maar tog ook opgewonde oor hul nuwe avontuur met die nuwe ‘foreigners’ in hul klas het kinderogies agter té groot blou maskers vir ons geloer.
Gretig om deel te neem aan gesprekke in die klas het die maskers kort-kort gewaai. “Sit terug jou masker”, hoor hulle 10 miljoen keer ’n dag. “Los uit jou maatjie se ore”. “Gaan sit op jou plek”.
Ek moes selfs ’n keer of wat van die knape keer om ’n vuisgeveg te voorkom.
Die sweet het by meer as een geleentheid teen my bolip af gestroom. Die hitte maak die dra van ’n masker net onmoontlik, en karring ons heeltemal te veel aan dié ding.
Sosiale afstand bestaan nie vir die kinders nie, en so gaan geen onderwyser dit in hulle indril nie.
Dit maak nie saak waar in die wêreld jy met kinders te doen het nie. Die manne kan nie verstaan dat meneer nie wil hand skud as hy homself voorstel nie. Nie hul challenge op die ping-pong tafel wil aanvaar, of saam met hulle ’n paar basketballe wil gooi nie.
Dan praat ons nie van die teleurstelling op die dogtertjies se gesiggies wanneer hulle vir Talita ’n geskenkboksie vou uit stukkies afvalpapier, of ’n ou verslete armbandjie of ‘n gebruikte pen as presentjie gee, en hulle nie ’n dankie-sê-drukkie mag kry nie.
Een ding het ek besef dié week. Ons gaan baie harder moet werk om die kinders met opregte geduld te hanteer solank as wat hierdie viruskrisis soos ’n swaard oor ons koppe hang.
Ek glo ook dat dit in die hantering van hierdie krisis gaan gebeur dat die koring weer eens van die kaf onderskei gaan word.

Related Articles

Back to top button