News

Diewe breek deur skoolgrendels

Diewe breek deur skoolgrendels

Soos elders in die land, loop plaaslike skole tydens die inperkingstyd ook onder die hande van vandale en diewe deur.
Daar is die afgelope naweek by die Lembede Primary School in Tumahole ingebreek waar hoofsaaklik elektriese bedrading en die pale en omheining van die tennisbaan gesteel is.
Volgens David Moeketsi, administratiewe klerk by Lembede, loop die skool die afgelope twee jaar al deur onder diewe wat die heining aan die agterkant van die skoolperseel knaend wegdra, en is dit ook hier waar diewe die naweek toegang tot die skoolperseel verkry het. Benewens dit wat gesteel is, is daar ook van die klaskamers se vensters gebreek en plafonne beskadig om in die klaskamers te kon inkom, sĂȘ hy. In die verlede het diewe selfs die toiletsitplekke en krane uit die skool se badkamers gesteel.

Benewens Lembede het die Ntshwephepa Primary School ook tydens die staat van inperking onder diefstal deurgeloop.
Volgens die skoolhoof, mnr. Aluta Sebitlo, is dit nie seker wanneer die skade aangerig is nie, omdat die skool sedert einde Maart gesluit is. Hy het die diefstal en vandalisme verlede week Vrydag ontdek toe daar begin moes word met voorberei- ding vir onderwysers om weer te kan terugkeer skooltoe. Die skade word op ongeveer R65 000 geraam, met verskeie plafonne wat beskadig is, die elektriese bedrading wat uit al die klaskamers gesteel is, asook die krane en pype in die leerders se badkamers wat weggedra is.

Verlede jaar was die skade byna net so groot toe ook van die loodgieterkoppelings in die badkamers en die koper vensterknippe gesteel is.

Mnr. Sebitlo glo dat die inbrekers waarskynlik die keer meer as een keer teruggekom het, want nadat die diefstal ontdek is, is strome water die volgende dag by die skool opgemerk waar nog krane gesteel is.

Related Articles

Back to top button