News

Onvoldoende afsperring in pad veroorsaak ongeluk

Onvoldoende afsperring in pad veroorsaak ongeluk

‘n Opgrawing in Walter Sisulustraat wat nie behoorlik afgesper is nie, het Dinsdagaand (19 Mei) ‘n ongeluk veroorsaak toe ‘n vrou teen ‘n groot grondwal vasgery het. Die skade aan haar motor is vasgestel op R 71 000 en sy is in die ongeluk beseer.

Chantelle Crous is ‘n bestuurder by ‘n supermark in Vanderbijlpark, maar staan tydelik by ander supermarkte in die Noordwesstreek in. Sy is nie vertroud met die opgrawing in Walter Sisulustraat nie. Sy was omstreeks 18:15, ná werk, na haar blyplek op pad toe sy in die groot grondwal vasgery het. “Dit was donker en ‘n mens kan glad nie die hoop grond in die pad sien as jou dompelligte (dim lights) aan is nie. Op die hoop grond is stokke ingesteek wat gevaarlint na ‘n boom naby verbind, maar dit reflekteer nie in die aand nie. Daar is ook geen bordjies ‘n ent voor die gat uitgesit wat motoriste waarsku dat daar opgrawings voor is nie,”sê Chantelle.

Chantelle Crous by die gat in die pad wat deur die J.B Marks munisipaliteit gegrawe is. Dit gat is ongeveer 4 meter diep. Foto: Venessa van der Westhuizen

“Ek het onlangs ‘n nekfusie ondergaan en toe my rug en nek pyn, was ek bekommerd dat my nek in die ongeluk beseer is,” vertel sy. Gelukkig het Alida Bekker wat naby die opgrawings in ‘n huis woon, die ongeluk gehoor en dadelik die polisie en ambulans gebel. Chantelle is na die ongevalle-afdeling van Mediclinic Potchefstroom geneem waar ‘n dokter kon vasstel dat haar spier en weefsels in haar nek beseer is. Gelukkig is daar sover geen skade aan die been in haar nek nie.

Alida het vertel dat die munisipaliteit verlede Donderdag met behulp van ‘n laaigraaf die gat van byna vier meter diep in die pad gegrawe het. Sy sê die opgrawing is baie gevaarlik en dat ‘n motorfietsryer Sondagaand ook nie die wal gesien het nie en amper in die gat ingery het. Chantelle wag tans vir terugvoer van die versekering om te bepaal of haar motor afgeskryf gaan word.

* Die Herald het die departement infrastruktuur van die J.B. Marks Munisipaliteit vir kommentaar genader, maar het sedert Woensdag geen terugvoering ontvang nie.

Lees die oorspronklike berig hier

https://potchefstroomherald.co.za/73186/onvoldoende-afsperring-in-pad-veroorsaak-ongeluk/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button