News

Potch weermagbevelvoerder oneervol ontslaan

Potch weermagbevelvoerder oneervol ontslaan

Die bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se algemene steunbasis in Potchefstroom, kol. Monnakhotha Joseph Moralo, is Woensdag, 20 Mei oneervol ontslaan. Dié ontslag het amptelik plaasgevind toe hy tydens ‘n militêre parade van sy rang gestroop is.

‘n Militêre appélhof het Moralo verlede Vrydag, 15 Mei ‘n vonnis van oneervolle ontslag (kassering) en twee jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan die gevangenisstraf vir drie jaar opgeskort is.

Die vonnis volg nadat hy in 2018 aan diefstal skuldig bevind is. Hy is in Oktober 2014 van diefstal aangekla toe hy opdrag gegee het om die voertuig van ‘n burgerlike informant met brandstof te vul.

Moralo was tydens die voorval die bevelvoerder van 2 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon wat teen Zimbabwe se grens ontplooi was om die grens te beveilig. Hy het opdrag gegee aan ‘n stafsersant om die informant se voertuig met 68 liter diesel te vul. Toe die stafsersant nie bewyse kon lewer dat die voertuig ‘n militêre voertuig is nie, is die voorval aan die militêre polisie gerapporteer.

Moralo se verweer was dat hy die informant vir brandstof moes vergoed, maar die hof het bevind dat hy die weermag se prosedures misken het en nie die regte befondsing deur die regte kanale gebruik het nie. Informante word deur ‘n spesifieke seksie bestuur en Moralo moes eers met die personeel van die betrokke seksie geskakel het om die vergoeding vas te stel.

Regter A.J Bam, wat bygestaan is deur brig. genl E.M Riekert en kol. M.A Venter, het in die uitspraak gesê die skuldigbevinding aan diefstal moet in ‘n ernstige lig beskou word, nie soveel in terme van die geldwaarde van die gesteelde diesel nie, maar omdat dit vier fundamentele sake aanspreek nl. oneerlikheid deur ‘n offisier, die miskenning van sy fidusiêre plig (wanbestuur van staatsgeld), die miskenning van prosedures en magsmisbruik.

Adv. Pikkie Greeff, sekretaris van die weermagvakbond Sandu, het gesê dit is die eerste keer in meer as 20 jaar dat ‘n weermagoffissier kasseer (oneervol ontslaan) word.

Lees die oorspronklike berig hier

https://potchefstroomherald.co.za/73144/potch-weermagbevelvoerder-oneervol-ontslaan/

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button