News

Hoe gaan dit met jóú?

Hoe gaan dit met jóú?

Dit raak moeilik om positief te bly. Selfs die opgeruimste mense begin nou al brom. Dis te verstane. Min dinge is soos dit was en êrens vorentoe wag ‘n nuwe normaal. Dalk het die grendelstaat reeds ons nuwe normaal geword.

Nadine Herbst, ‘n korttermyn makelaar van Vanderbijlpark, sê sy bel gereeld al haar kliënte en ander ouers en het agtergekom dat die meeste baie angstig en onseker is. “Finansiële onsekerheid is soos skrif teen die muur en moegheid en moedeloosheid word erger by die uur. My vraag is hoe word ouers ondersteun, finansieël en so ook emosioneel in hierdie tyd? Wie vra hoe dit gaan?”

Sy sê baie mense voel of hulle ‘n punt bereik het waar hul nie meer weet wat om te doen nie. Dit het haar baie hartseer gemaak toe ‘n enkelma vir haar sê sy wonder of selfmoord nie ‘n oplossing is nie, want sy weet nie waarmee moet sy skoolgeld betaal nie.

Dit het Nadine laat besef hoe belangrik dit is om te vra… hoe gaan dit met jou? Belangriker nog, om te luister wat geantwoord word. Selfmoord is en kan nooit die antwoord wees nie. Daar is altyd ‘n ander opsie. ‘n Ander uitweg. Vat skoolfonds byvoorbeeld, alhoewel ouers verplig word om skoolfonds te betaal, kan daar reëlings met skole getref word in die verband. Maak kontak, reik uit. Soek saam na oplossings.

Dalk moet hierdie tydperk nie as ‘n oorlog beskryf word nie, maar eerder ‘n geboorteproses na ‘n nuwe wêreld. Soos Nadine ook sê: “die primêre verantwoordelikheid van opvoeding is om ons kroos lief te hê in stede van om hulle te verdrink met al die inligting van wêreld nuus en sodoende angs en kommer oor te dra.”

Nadine het ook agtergekom dat die inperkingstyd nie net negatiewe gevolge het nie. Sy weet van ‘n vrou wat skielik moes klaarkom sonder kinderopassers en huishoudsters en in ‘n regte moederhen ontpop het. ‘n Ander vrou het laat weet sy het nooit geweet haar man is so snaaks nie. Gesinne wat (met die normale gemoedskommelinge) tog bly fokus op die positiewe, het ontdek dat dit lekker is om goed saam te doen.

In haar eie huis sê Nadine het hulle van die begin af prettige leer aktiwiteite uitgedink om hulself en die kinders mee besig te hou. Sy het ook al ‘n vriendin gebel en dan het hul so saam-saam vloere gemop terwyl hul gesels het. So het hul mekaar gemotiveer.

Dis dalk juis wat ons almal moet doen. Ophou om ‘n sondebok te soek. Ophou blameer en eerder elkeen verantwoordelikheid vat om binne ons vermoë gesond te bly en mekaar te motiveer. Bel en vra hoe gaan dit. Kyk mense in die oë. Almal kan nie geld of kos skenk nie, maar almal kan tyd maak om na ‘n ander te luister.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Hoe gaan dit met jóú?

Related Articles

Back to top button