NewsNews

Navorsing in plantkunde by die NWU

Navorsing in plantkunde by die NWU

Waternavorsing, met ‘n sterk fokus op alge en sianobakterieë, is tydens 1994 aan die destydse PU vir CHO gevestig tydens die aanstelling van prof. Braam Pieterse as departementshoof van Plantkunde. Aanvanklik was ons navorsing hoofsaaklik gefokus op die verskeidenheid alge in die Vaalrivier, asook omgewingstoestande en chemiese waterkwaliteit wat hulle groei beïnvloed het.
Met verloop van tyd, en weens aanstellings van navorsers afkomstig van ander universiteite, het ons navorsing geweldig uitgebrei – nie net het ons ook ander riviere, damme en ‘n groot verskeidenheid varswaterhabitatte dwarsoor Suid-Afrika begin bestudeer nie, maar die navorsingsonderwerpe het ook met verloop van tyd geweldig uitgebrei.

Tydens 1995 is prof. Sanet Janse van Vuuren as ‘n junior lektor in Plantkunde aangestel. Alhoewel haar aanvanklike navorsing hoofsaaklik gerig was op die tipe en verskeidenheid alge wat in ons varswater voorkom, asook die interaksie tussen alge en die omgewing, was sy later ook betrokke by projekte oor die voorkoms van alge en sianobakterieë in watersuiweringsaanlegte, die groei en ontwikkeling van skadelike alge, en meer onlangs die groei van alge teen rotswande van grotte. Sy was ook die eerste outeur van ‘n boek met die titel “Easy identification of the most common freshwater algae: A guide for the identification of microscopic algae in South African freshwaters”, asook twee hoofstukke in die boek “Freshwater Life – A field guide to the plants and animals of Southern Africa”. Sy is tans besig met die skryf van ‘n hoofstuk in ‘n boek wat handel oor biobrandstof wat uit alge vervaardig word.

Die wonderwêreld van alge het prof. Jonathan Taylor se belangstelling geprikkel terwyl hy ‘n eerstejaarstudent in Plantkunde aan die NWU was. Dit het later gelei tot nagraadse studies in alge, waartydens hy in ‘n spesifieke alggroep, wat as die “diatome” bekend staan, geïnteresseerd geraak het. Na voltooiing van sy Ph.D. het hy navorsing gedoen op die gebruik van diatome as indikators van besoedeling en hy het baie artikels oor hierdie, en ander onderwerpe, die lig laat sien. Vandag word Jonathan as een van die wêreldleiers op diatoomnavorsing beskou. Hy het alreeds meer as 20 nuwe diatoomspesies beskryf en daar is ook reeds drie diatoomspesies na hom vernoem. Dr. Anatoliy Levanets, oorspronklik van die Oekraïne, het tydens 2003, as ‘n post-doktorale student, by die navorsingsgroep aangesluit. Sy ondervinding met grondalge het ons reeds bestaande navorsing gekomplementeer en dit het tot verskeie studies oor die rol van grondalge in die rehabilitering van mynhope, gelei. Anatoliy het ook ‘n intensiewe belangstelling in ‘n groep varswater groen-alge wat bekend staan as “desmiede” en hy het ook verskeie artikels oor Suid-Afrikaanse desmiede gepubliseer.

Inligting in die vorige paragrawe illustreer die wye omvang van varswater- en algverwante navorsing binne die vakgroep Plantkunde. Algnavorsing by meeste ander universiteite fokus hoofsaaklik op mariene spesies, omdat hulle in of naby, kusgebiede geleë is. Ons navorsingsgroep aan die NWU word dus beskou as die spesialiste op varswateralge in die land. Publikasies van ons navorsing verskyn in hoë impak, eweknie-geëvalueerde wetenskaplike joernale. Dit sluit navorsing op die taksonomie en ekologie van alge in, studies oor nadelige alge, verandering in waterkwaliteit van riviere as gevolg van omringende landbou, industriële, mynbou en stedelike aktiwiteite, fisiologiese en molekulêre studies op alge en sianobakterieë, die beskrywing van nuwe algspesies, sowel as navorsing op alge in grond- en lughabitatte.
Die meeste van ons afgestudeerde nagraadse studente beklee tans senior posisies in beroepe met groot verantwoordelikhede. Hierdie beroepe sluit onder andere senior navorsingsposisies by watersuiweringsaanlegte (bv. Rand Water, Midvaal Water, Sedibeng Water) in, alg-analiste by munisipaliteite en suiweringsaanlegte, konsultante, vleiland ekoloë, navorsers, onderwysers, dosente en vele ander.

Berig: Noordwes-Universiteit (NWU).

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button