NewsNews

‘n ‘Drive-through’ babatee – koop maar nie kuier nie

‘n ‘Drive-through’ babatee – koop maar nie kuier nie

Ook in Parys was hier al soortgelyke inisiatiewe

Almal weet ‘n babatee span die beste kwaliteite van ‘n vrou in – om te koop en te kuier. Dit is egter juis dié twee kwaliteite wat nié tydens die inperkingstydperk ingespan mag word nie, daarom is ‘n babatee dus vir die meeste swanger vroue nou buite die kwessie. Maar Izelle Kruger en haar dogter Laumé Crous is regte planmakers. Hulle planne om ‘n babatee by ‘n venue in Potchefstroom te hou, het deur die mat geval toe die inperkingstyd aanbreek.

Vir Izelle was dit net onaanvaarbaar dat haar skoondogter, Clariesa Kruger wat haar eersteling verwag, tydens die inperkingstydperk nie ‘n babatee kan hê nie. Izelle en Laumé het toe besluit om ‘n “Drive-through” babatee te reël.

Met só ‘n tee mag vroue steeds geskenkies vir die baba koop, maar hulle moet hulle kuier prysgee om die inperkingsreëls na te kom.

Izelle en Laumé het steeds baie moeite gedoen met die babatee. Die ingang van die huis waar die babatee gehou is se oprit het hul met pragtige ballonne en ‘n blinkblou sliertgordyn versier.

Eenkant was ‘n tafel gedek met ‘n spierwit tafeldoek waarop koeldrank en geskenkpakkies vol heerlike eetgoed uitgepak was.

Die “Drive-through” babatee het as volg verloop: Gaste is uitgenooi om binne ‘n sekere tydperk na die huis te ry waar die babatee gehou is. Hulle het voor die huis gestop, maar nie uit hul motor geklim nie. Hul het ‘n geskenkie deur die motorruit afgegee en die voornemende mamma, in dié geval Clariesa, het dit ontvang.

Om dankie te sê, het sy weer ‘n geskenkpakkie, met heerlike eet- en drinkgoed, aan die gaste uitgedeel. Nadat die gaste hul eet- en drinkgoed ontvang het, het hul dadelik weer vertrek. Clariesa, ‘n onderwyseres by Hoër Tegniese Skool in Potchefstroom, het gestraal met die ontvangs en uitdeel van geskenke. Vir haar was haar babatee uniek en iets wat sy altyd sal onthou en vir haar kinders sal oorvertel.

Oulike eetgoed in die geskenkboksies wat die gaste gekry het.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

‘n ‘Drive-through’ babatee – koop maar nie kuier nie

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button