News

Dis nog vasbyt tot einde Mei

Nog verligting kom, sê president Ramaphosa

Dele van die land sal teen einde Mei na vlak 3 van inperking skuif, terwyl groot metropolitaanse gebiede waar die infeksiekoers vinniger styg as in die res van die land, bes moontlik langer op vlak 4 van inperking sal bly. So het president Cyril Ramaphosa Dinsdagaand 12 Mei aangekondig toe hy met Suid-Afrikaners gepraat het.

Hy het ook gesê dat sekere vlak 4 regulasies verslap gaan word om meer ekonomiese aktiwiteite toe te laat.

Daar is egter geen melding gemaak van watter regulasies verslap gaan word nie.

Die president het gesê dat hierdie nuut is vir almal maar dat foute wat gemaak is, reggestel sal word.

Hy het toegegee dat van die optrede onduidelik, teenstrydig of swak verduidelik  was, en dat van die besluite  woede en teenstand veroorsaak het.  “Die implementering was soms stadig en die afdwing van regulasies soms te hard en nie konsekwent,” het die president gesê.

Hy het egter beklemtoon dat die strategiese benadering was om lewens te red met die doel om ook infeksievlakke deur middel van ingryping te vertraag.

Wat verseker in plek sal bly vir vlak 3 is steeds sosiale afstand tussen mense, geen kontak, sanitasie en ontsmetting van werkplekke, die dra van gesigmaskers, en basiese higiëne wat deel moet wees van Suid-Afrikaners se woon- en werksomgewing.

Die verwagting is dat die aandklopreël wat bepaal dat jy nie tussen 20:00 en 05:00 op straat mag wees nie, ook in plek sal bly.

Die president het wel laat deurskemer dat daar minder beperkings op oefening sal wees maar niks is gesê rondom die heropening van skole, universiteite en kleuterskole nie.

As gekyk word na die konsepdokument wat in April uitgereik is oor regulasies ten opsigte van die verskillende vlakke van regering, kan vlak 3 moontlik vir Suid-Afrikaners dalk ook verligting vir tuin- en swembaddienste inhou, sowel as vir wasserye en droogskoonmaakdienste. Alle boeke, klere, skoene en huishoudelike toestelle sal waarskynlik verkoop kan word, en dalk sal sigarette en tabakprodukte ook weer ‘n kans kry om op die rak te wees. Die hoop is ook dat daar dalk effense verligting vir drankverkope mag kom, en dat meer fabrieks-, kleinhandel- en mynwerkers sal kan terugkeer werk toe.

Lesers moet egter onthou dat geen aankondiging oor wat vlak 3 regulasies presies sal bepaal nog gemaak is nie, en dat daar dus nog geensins met sekerheid gesê kan word watter bedrywe en aktiwiteite tydens vlak 3 van inperking toegelaat sal word nie. Om sekerheid hieroor te kry sal gewag moet word vir die ministers om die regulasies aan te kondig en in die staatskoerant te publiseer. 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button