NewsNews

Petroljoggie verstom Potchefstromer met sy barmhartigheid

Petroljoggie verstom Potchefstromer met sy barmhartigheid

‘n Potchefstroomse bakster en besigheidseienaar, Jaqueline Marais (42) het onlangs in die inperkingstyd, ‘n nuwe waardering vir haar medemens gekry en tot die besef gekom dat daar steeds spreekwoordelike engele op ‘n mens se pad kom.

Hierdie engel was in die vorm van Jerome Daniels, ‘n petroljoggie van Rawsonville in die Wes-Kaap.

Haar ontmoeting met Jerome het wel gebeur toe sy sowat ‘n maand en ‘n half gelede haarself in die Rawsonville bevind het nadat sy sak en pak van Potch verhuis het…

“Ek was die eienaar van ’n koffiewinkel (Kleijne Pienk Huis) en het besluit om saam met ’n vriendin van my in Rawsonville ’n soortgelyke plek oop te maak. Kort nadat ek hier aangekom het, is ons land onder ’n nasionale inperking geplaas. Namate tyd verloop het en die situasie uitgekring het, het die werklikheid diep getref en ons het besef dinge gaan nie uitwerk nie,” vertel Jaqueline.

Sy het daarom besluit om terug te keer Potchefstroom toe – ’n plek waar sy nog familie en vriende het en sy die ondersteuning ná die afgelope paar weke se struikelblokke en wipplankryery broodnodig het, maar nooit het sy in ’n miljoen jaar gedink dat die pad terug tot in Potch so lank en vol uitdagings sou wees of dat ’n petroljoggie tot haar redding sou kom nie.

Jacqueline Marais is in haar krisistyd deur ‘n petroljoggie gehelp om weer Potch toe te kom.

“Ek het verlede week besluit om terug te gaan. Ek het my ore uitgeleen aan sosiale media en mense wat sou weet hoe en wat ek sal moet doen om dit te kan doen. Dit het in ’n stadium onmoontlik gelyk.”

Jaqueline is deur die polisie in Rawsonville ingelig dat sy nie sal kan terugkeer nie en dat hulle nie met ’n reispermit sou kon help nie.  ’n Ander vriend het toe tot haar redding gekom en gesê sy moet die plaaslike landdros vir so ’n versoek gaan spreek. Die venster waarin dit moes gebeur het, het egter al nouer geword, maar ’n reeds brose Jacqueline het verlede week ’n afspraak by die landdros in Worcester gekry.

“Ek was Donderdag 30 April gereed om die pad Worcester toe aan te durf. Ek het nog ’n paar rand in my rekening gehad en het nog gewag dat vriende my sou uithelp met die res van die geld om te kon terugkeer. Ek het by die Caltex-vulstasie in Rawsonville stilgehou en die petroljoggie gevra om R200 in te gooi. Ek het 20 minute gehad om by die landdros se kantoor te kom. My gemoed was reeds nie wat dit moes wees nie. Ek was gespanne, onseker en emosioneel terwyl ek wag dat hy die petrol ingooi. Ek het my kaart oorhandig om te betaal sodat ek net in Worcester kan kom. “Declined; limit exceeded,” het die masjien gewys. My hart het tot in my skoene gesak, maar wat volgende gebeur het, kan ek steeds nie glo nie . . .”

Die petroljoggie, Jerome Paulse (25), het besluit om rustig haar kar se ruite te was terwyl Jacqueline onverpoosd op haar foon geswoeg het om geld in die hande te kry.“Ek kon van die begin af sien iets het haar gepla. Sy was baie gespanne soos dit is. Ek kon die skok in haar gesig sien toe die kaartmasjien die transaksie verwerp. Ek het die hartseer in haar oë gesien en ek het geweet ek kan nie iemand in hierdie tyd nié help nie,” het hy vertel.

“Ek kon van die begin af sien iets het haar gepla. Sy was baie gespanne soos dit is. Ek kon die skok in haar gesig sien toe die kaartmasjien die transaksie verwerp. Ek het die hartseer in haar oë gesien en ek het geweet ek kan nie iemand in hierdie tyd nié help nie,” noem Jerome.

Jerome het rustig met haar gesels en gesê sy moet ontspan en sy kan later terugkom om te betaal wanneer sy weer geld het.

“Hy het aangebied om dit uit sy eie sak te betaal en gesê hy sal my weer sien en ek kan later met hom regmaak. Ek was geskok. In die afgelope tyd wat soveel deure in my gesig toegeklap het, is iemand soos Jerome se genade net op die regte tyd gestuur – ek kon dit nie glo nie.”

Jaqueline het Worcester toe gery en is deur die landdros gehelp om ’n permit te bekom – alles verniet aangesien die vlak 4-inperkingsregulasies dieselfde aand nog aangepas is om eenmalige interprovinsiale reis tot 7 Mei toe te laat. Sy het dieselfde dag nog vir Jerome sy R200 teruggevat.

“Ek moet bieg. Ek het dit ook nie breed nie, maar ek sal altyd help. Ek kan nie toekyk hoe mense sukkel nie. Ons moet meer mense vertrou en help waar ons kan,” het Jerome gesê.

Jerome het sowat sewe maande gelede by die vulstasie begin werk en ook verlede jaar van Stellenbosch af Rawsonville toe verhuis om by sy lewensmaat te wees.

“Jerome het my uitkyk verander. Hy het selfs ’n impak op my verhouding met die Here gehad. Hy is ’n bewys dat ’n mens moet uitkyk vir ander en dat ’n mens moet vertrou. Ons moet genade hê vir mekaar. Here, seën vir Jerome,” sê sy.

Jaqueline het Sondag 3 Mei die lang pad aangedurf en veilig in Potchefstroom aangekom.“Ek is deur sowat vier padblokkades en ek moet bieg – almal was baie vriendelik en behulpsaam. “Ek is baie dankbaar.”

Jerome se kollegas is trots op die onselfsugtige daad wat hy verrig het en hoewel hy homself nie as ’n held beskou nie, was hy gewis vir Jaqueline in daardie paar minute ’n superheld.

https://potchefstroomherald.co.za/72829/petroljoggie-verstom-potchefstromer-met-sy-barmhartigheid/

Related Articles

Back to top button