NewsNews

NWU ingenieurs ontwerp pap OTM

NWU ingenieurs ontwerp pap OTM

Die voedingskema wat die Potchefstroom Sakekamer die afgelope weke met die vervaardigers van voedsel ekstrusie toerusting, CFAM Technologies, bestuur, het ‘n groep NWU-ingenieurs genoodsaak om aan ‘n ander manier te dink om die klaar gaar kitspap onder behoeftige mense te versprei.
LJ Grobler en Danie Vorster het besef die voedingskema is besig om al hoe groter te word en vrywilligers wat die meel versprei, word minder omdat hulle weer moet werk.
In slegs twee weke het die ingenieurs letterlik dag en nag gewerk om die pap-OTM te ontwerp en te bou. Dié nodige masjien is boonop verlede Woensdag, 29 April gepatenteer.
Die Sakekamer en CFAM het al bykans ‘n miljoen maaltye aan hulpbehoewende mense in en om Potchefstroom verskaf. Die pap word nou ook na verskeie ander gebiede versprei soos Fochville, Ladismith, Klerksdorp, De Wetsdorp, Swartruggens, Hartebeesfontein, Vanzylsrus, Mkuzi, Hoedspruit, Port Elizabeth en Winterton en die aanvanklike uitset van 1t per dag het al na 11t per dag opgestoot. Volgens Johan Janse van Rensburg, lid van die Sakekamer, is die uitdeel van die sakke kitspap ‘n logistieke nagmerrie.
Grobler verduidelik dat die pap-OTM help om die baie administrasie uit te sny en sorg dat die meel aan die regte persoon op die regte tyd uitgedeel word.
Die pap-OTM word binne ‘n herwonne skeepsvraghouer ingebou wat dan in ‘n veilige gebied staan. Dit word net een keer per week hervul.
Die ontvanger kry ‘n elektroniese koepon met ‘n pin-nommer op sy selfoon wat hy by die pap-OTM moet intik en gebruik sy eie houer/sak waarin die meel uitloop.
Die ingenieurs het selfs ook gedink aan ‘n opeenhoping by die masjien. Die tyd waarin die ontvanger die meel moet afhaal word ook op die koepon aangedui wat beteken dat dit binne ‘n sekere tydperk moet geskied. So word opeenhoping vermy. Projekbestuurders weet dan wanneer ‘n koeponhouer sy porsie ontvang het.
Daar word ook gespaar op verpakking wat voordelig is vir die natuur, want die 5kg meelsakke kan hergebruik word om besoedeling te voorkom.
Die eerste masjien word binne die volgende paar dae in die gemeenskap geïnstalleer en geïmplementeer.
“Ons poog om uiteindelik dié pap-OTM masjiene op plekke te installeer wat ‘n behoefte daaraan het”, sê Grobler wat weet hoe om te skep as dit pap reën.

https://potchefstroomherald.co.za/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button