NewsNews

Aanranding nie moord, sê regter in uitspraak

Kaptein is onskuldig, sê regter

Vier jaar na die  gebeure op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik,  is kapt. Henk Prinsloo  vandag, Vrydag 8 Mei,  deur regter Corné van Zyl in die Hoë Hof in Parys onskuldig bevind en ontslaan op beide die staat se klagtes van moord  na die dood van  Tumelo Simon Jubeba en Samuel Tjixa, waarop hy en nog vyf ander mans van Parys tereg gestaan het.

Na al die hartseer en trauma van  ‘n uitmergelende hofstryd van vier jaar, vier maande en 2 dae is kapt. Henk Prinsloo (regs) uiteindelik vandag ‘n vry man nadat hy deur regter Corné van Zyl onskuldig bevind en ontslaan is op 2 klagte van moord waarvan die staat hom aangekla het. By hom is adv. Dawie Reyneke van die Regshulpraad wat hom verteenwoordig het. 

 

Regter Van Zyl het al vyf ander beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie van der Westhuizen Jr, en skoonseun Miela Jansen van Vuuren, asook Anton Loggenberg en sy seun, Cor Loggenberg,  skuldig bevind aan aanranding, terwyl Loedie van der Westhuizen Jr ook skuldig bevind is aan ‘n klag van regsverydeling. Boeta wat ook van regsverydeling aangekla was, is egter  onskuldig bevind op dié klag.

Cor en Miela is  elk net op een van die twee klagtes teen hulle skuldig bevind, en nie op beide klagtes soos Boeta, Anton en Loedie nie. In beide Boeta en Anton se geval is hulle op een van die twee klagtes skuldig bevind aan aanranding gewoon, terwyl hulle skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer op die ander klag. Loedie is op beide klagtes skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer, terwyl Cor en Miela se skuldigbevindings ook is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Al vyf beskuldigdes se borg is verleng en sal hulle weer die week van 24 tot 28 Augustus in die hof wees wanneer vonnis opgelê sal word.

Die staat het in sy saak aangevoer dat die beskuldigdes Tjixa en Jubeba na bewering  sodanig sou aangerand het op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik, dat hul kort daarna aan hul beserings beswyk het in die Parys en Pelenomi-hospitale onderskeidelik.

Tjixa en Jubeba is deur ‘n groep mans aangekeer na ‘n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen (sr.) op die plaas Biesiesbult, nadat verskeie boere op die noodroep gereageer het. Loedie van der Westhuizen Sr is intussen oorlede.

Regter Corné van Zyl het vandag slegs ‘n verkorte weergawe van haar uitspraak gelewer met hoofsaaklik verwysing na die getuienis van die ses 204 getuies wat vir die staat getuig het. Dit is gedoen in die lig van die beperkings wat ook tans by howe geld tydens vlak 4 inperking. Baie streng maatreëls ten opsigte van afstand tussen mense en die dra van maskers is in die hof toegepas.

Met verwysing na die 204-getuies het regter Van Zyl gesê dat al ses se getuienis voor die hof min of meer soortgelyk was.. Sy het daarna verwys dat hulle mekaar weerspreek het in die hof, maar ook dat dele in hul verklarings nie ooreengestem het nie.

Sy het opgemerk dat die 204 getuies se pogings om hul eie aandeel in wat op die plaas Swartklip gebeur het, af te water, en die beskuldigdes se aandeel daarenteen in hul getuienis te vergroot soos ‘n goue draad deur die verhoor geloop het. Dit is ook  merkbaar gewees in die stemnotas van die 204 getuies wat in die hof gespeel is en waarin hulle eie aandeel in die gebeure gehoor is wat duidelik verskil het van hul eie getuienis in die hof. Sy het ook verwys na  die manier hoe die 204-getuies staatsgetuies geword het en die getuienis oor hoe hul verklarings afgeneem is.

Maar dit was uiteindelik die getuienis van ‘n afgetrede patoloog, prof. Jan Botha, wat vir die verdediging getuig het, wat die staat se getuienis op sy kop gedraai het.

Regter Van Zyl het gesê prof. Botha se getuienis was onbetwisbaar en was dit wat hy getuig het in skerp  kontras met wat deur die 204 getuies gesê is.

Prof. Botha moes sy getuienis suiwer baseer op die nadoodse verslae, foto”s en ander getuienis wat toe reeds voor die hof gehou was, en was dit uit sy getuienis duidelik dat die oorledenis kon sterf weens onvoldoende mediese hulp en die ernstige beserings wat hul moontlik kon opdoen in hul reeds beseerde toestand toe hulle oor ruwe terrein van die plaas Swartklip met ‘n polisievangwa vervoer is om die ambulans langs die pad te ontmoet wat hulle verder sou vervoer.

Botha het destyds getuig dat die manier hoe die twee mans na die beweerde aanranding van die toneel vervoer is, beslis hul dood kon veroorsaak het of hul beserings so kon vererger het dat dit noodlottig kon wees.

Hy het talle aspekte rondom die beserings uitgewys wat nie versoenbaar was met wat in die hof getuig is nie.

Daar was ernstige tekortkominge in die staat se ketting getuienis, en kon gemeenskaplike doel ook nie deur die staat bewys word nie.

Sy kan daarom nie anders as om in die lig van prof. Botha se getuienis te bevind dat geen van die beserings  wat deur die beskuldigdes veroorsaak is of wat deur die oorledenes gely is,  hul dood kon veroorsaak het nie, het regter Van Zyl gesê.

Regter Van Zyl het derhalwe tot die gevolgtrekking gekom dat die staat nie daarin kon slaag om moord of strafbare manslag te bewys nie, en dat daarom  in die lig van die skulderkentenisse wat deur die beskuldigdes self of in hul getuienis in die hof getuig, al oorweging kan wees om hul aan aanranding gewoon of aanranding met die opset om ernstig te beseer, skuldig te vind.

Adv. Piet Pistorius tree namens Boeta van der Westhuizen op, Johan Vorster tree op vir Anton Loggenberg, adv. Dawie Reyneke het vir kapt. Henk Prinsloo verskyn asook vir Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen, terwyl adv. Hennie du Plessis namens Miela Janse van Vuuren verskyn.

Die saak is oor die afgelope meer as vier jaar gekenmerk deur verskeie terugslae en oponthoude wat telkens uitstel genoodsaak het.

Related Articles

Back to top button