NewsNews

Werkgewers wys die vinger na departement arbeid se rekordhouding en gebrekkige terugvoer oor WVF-eise

Werkgewers wys die vinger na departement arbeid se rekordhouding en gebrekkige terugvoer oor WVF-eise

Probleme met die uitbetaling van Werkloosheidsversekeringsfonds voordele uit die tydelike werkgewer-werknemer-hulpprogram (Ters) blyk eindeloos te wees met tot net so min as ‘n geskatte 38% van werkgewers wat sê dat hulle die geld wat vir werknemers ge-eis is, ontvang het.

Boonop klop die syfers van uitbetalings volgens die jongste syfers van die werkgewersorganisasie Neasa, ook nie met die syfers van uitbetaling wat tot dusver van department van indiensneming en arbeid ontvang is nie, berig Netwerk24.
Talle werkgewers ook in Parys het gesê dat die proses om aansoeke in te dien ure neem met dan geen, onvolledige of onakkurate terugvoer oor eise wat nie suksesvol was nie. Boonop blyk dit dat oproepe om hulp en antwoorde te vra ook nie baie sukses het nie, of jy bloot terugverwys word na die stappe om aansoeke in te dien.

Rekenmeesters wat namens kliënte eise ingedien het, deel dieselfde ervaring met sommige eise wat maklik afgehandel kon word, terwyl ander sonder rede nie uitbetaal is nie. Sommige kla selfs dat van die voordele wat uitbetaal is, verkeerd bereken is en nie al die geld uitbetaal is waarop werknemers geregtig was nie. Met sommige terugvoer wat sê werknemers is nie geregistreer nie, sê besighede dit kan eenvoudig nie wees nie omdat hulle deur departement arbeid self geoudit en alles korrek en op datum was.
Adv. Mzwanele Yawa van departement Arbeid het oor die naweek gesê, dat die kleinste fout kan maak dat WVF-eise, veral die wat deur die Covid-19-ters-program ge-eis is, nie betaal word nie.
Die probleem met die eindelose gesukkel om eise in te dien om juis werkgewers te help wat in hierdie grendeltyd nie salarisse kon betaal nie, is dat die nagmerrie proses om te eis, baie werknemers laat glo dat werkgewers nie hul kant bring nie. Tog is dit juis werkgewers wat vir ure sukkel om ter wille van hul werknemers te probeer om die eise suksesvol in te dien.

Die plaaslike kantore van departement arbeid is gesluit en ook hier kan dus geen hulp gekry word nie.

Van die werkgewers het aangedui dat die eerste drie metodes wat gevolg moes word, baie gekompliseerd en moeisaam was. Die finale aanlyn indiening was maklik, maar vele maatskappye het net sommige werknemers se betalings ontvang.
Een werkgewer skryf dat slegs 2 van 9 eise se betalings ontvang is nadat deur al die hoepels gespring is om te bewys dat alle betalings op datum is, en boonop pas deur departement arbeid geoudit is. Steeds kon geen redes gekry word hoekom die 7 se eise nie betaal is nie. Byna 40 oproepe en 4 e-posse later was daar ook nog nie antwoorde nie – net frustrasie.
’n Plaaslike boekhouer het aangedui dat ook al hul kliënte se inligting korrek was met werknemers wat geregistreer is, en WVF en belasting wat 100% op datum is. Tog het die eise net vir party kliënte deurgegaan. Sekere kliënte het ook net uitbetalings vir sekere werknemers ontvang en nie vir ander nie.

Ook hier is al die moontlike wyses van indiening gevolg. Wat nog erger is, is dat sommige kliënte wie se eise nie afgehandel kon word nie al vir jare vir WVF geregistreer is, so ook hul werknemers.
Baie het die dienslewering en stelsel as uiters swak beskryf en gesê dat hulle al moed opgegee het met die eisproses.
Nog ’n werkgewer stem saam dat na die kopseer van die eerste aansoekplatvorms was die aanlynstelsel maklik maar net 1 werknemer is uibetaal – 18 is geweier. Geen terugvoer. Geen redes. Geen e-posse word geantwoord. Vergeefse oproepe. Ook hier is alle oudits van departement arbeid geslaag, en waar werknemers vroeër voor Covid-19 afgelê moes word, kon almal eis sonder probleme. Maar hoe maak jy nou sin van eise wat nie uitbetaal word sonder redes.
Intussen word werknemers opstandig omdat hulle sonder betaling sit en die regering die vuur stook deur vinger te wys na werkgewers. “As mens net weet waar die probleem met die aansoeke is, kan jy dit regstel.”
Meeste werkgewers het gevoel dat behalwe vir die webtuiste wat knaend nie beskikbaar was nie, en eise wat oor en oor ingedien is, departement arbeid te blameer is vir swak rekordhouding ten spyte van oudits. Daar was egter ook die enkeles wat gesê het eise is maklik en vinnig afgehandel – sommige binne ‘n dag.

 

 

Related Articles

Back to top button