NewsNews

Spaanse griep en Covid-19:

Verstommend die ooreenkomste

As jy gaan oplees oor hoe die Spaanse Griep of te wel die Groot Griep destyds Suid-Afrika geraak het, is dit verbasend hoeveel van wat net meer as ‘n eeu gelede gesien is, ooreenstem met wat Suid-Afrikaners vandag beleef met die Covid-19 pandemie.
Vir die pasgevormde Unie van Suid-Afrika het die Spaanse griep van 1917/18 ook destyds op ’n slegte tyd getref. Dit was die laaste jaar van die Eerste Wêreldoorlog en die ekonomie het nog gesteier om te herstel na die gesukkel met die oorlog, konsentrasiekampe, en geweldige armoede.

Dan was daar soos nou, ook nog die droogte van 1914-1916, en daarna vloede in die jare 1916/17.

Daar was ‘n tekort aan dokters en gesondheidswerkers in die land. Trekarbeiders was bang dat hulle die siekte sou kry en is terug na waar hulle vandaan gekom het. En so het die siekte ook na hierdie gebiede versprei. So vinnig soos wat die siekte in Durban “aangeland” en versprei het, so skielik het dit ook weer verdwyn, maar nie voordat dit ‘n pad van verwoesting deur die land sou loop nie.

Tussen September/Oktober 1918 het 140 000 mense in sewe weke in Suid-Afrika gesterf. Hiervan was 62% in die destydse Kaapprovinsie waar 6 000 mense in net twee weke gesterf het en 120 000 siek geword het. Van die bevolking van 6 miljoen het 2,6 miljoen in Suid-Afrika siek geword, en meen sommige kenners dat Suid-Afrika een van die lande was wat die swaarste getref was deur die siekte.

Hoe akkuraat Suid-Afrika se siekte- en sterftesyfers was, is ‘n ope vraag omdat rekordhouding van sterftes en geboortes toe nog nie hier baie akkuraat was nie. Daar is selfs gesê dat van die sterftes dalk eerder as gevolg van longontsteking as die griep was.
Die siekte het destyds in Asië ontstaan en toe na Europa en Noord-Amerika versprei, met van die kwesbaarstes wat siek geword het, tussen 25 en 45 jaar.
Soos nou het die Spaanse Griep die land tot stilstand gedwing. Dienste moes opgeskort word as gevolg van die groot getalle siek werkers. Howe, myne en fabrieke is gesluit. Strate was verlate. Winkels leeg en die gesig van mense in rye voor apteke, is ook toe gesien.
Selfs motors het gestaan as gevolg van petroltekorte.

Só onthou Ouma Bettie die Groot Griep:
Ouma Bettie Theron van die Najaarsrus Tehuis vir Bejaardes in Parys is nou so byna 98 jaar oud. Sy is gebore in 1922, vier jaar na die Groot Griep, en onthou nog goed hoe haar ma vertel het van hoe baie siek geword het van die griep in die koue wintersmaande van 1917/18.

Haar ouers was toe pas getroud. Omdat daar nie soveel gevorderde mediese tegnologie was, en soveel hospitale en klinieke soos nou nie, is meeste mense tuis versorg. Daar was talle gesinne wat siek by die huis was.
Anders as vandag met sosiale media en soveel inligtingsbronne, was daar ook nie kommunikasie nie. Mense het nie geweet waarvandaan die siekte gekom het, of hoe dit versprei nie. Haar ouers self het nie siek geword nie.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button