News

Die snaakse snawelmasker

Sien, dra jou masker! Hou jou afstand! Daar is niks nuuts onder die son nie!

Plae, epidemies en pandemies is algemeen in die geskiedenis van die mensdom vanaf die vroegste, onlangs ontdekte een in China, ongeveer 3000 vC, tot die jongste COVID-19.
Die skrikwekkendste van hierdie pandemies was seker die Swart Dood van 1331-1353 wat in Europa alleen tussen 10 en 60% van die bevolking, 75 – 200 miljoen mense, uitgewis het.
Een van die grootste probleme met plae is die beskermende toerusting vir dokters en gesondheidspersoneel. Die infeksie en dood van talle dokters en verpleegpersoneel in die afgelope tyd getuig hiervan. In Italië is nagenoeg 100 dokters dood as gevolg van infeksie deur die virus.
Die idee van ’n gestandaardiseerde kostuum vir plaagdokters is in 1619 ontwikkel deur die Franse dokter Charles de Lorme (1584 – 1678). Alhoewel hy later beskryf is as ’n kwak, was hy in daardie tyd ’n vooraanstaande dokter van onder meer Koning Henri IV, Koning Louis XIII, en Koning Louis XIV.
Een van die opvallendste kenmerke van die kostuum was die snawel. Die destydse teorie, aanvaar deur die meeste mediese deskundiges van daardie tyd, was dat die siektes oorgedra is deur miasmata, d.w.s. giftige dampe in die lug veroorsaak deur siekte en deur verrottende organiese materie.
Die kostuum werk op dieselfde beginsel as vandag se hazmat-pak. Dit is ontwerp om die hele liggaam te bedek sodat geen liggaamsdele uitsteek nie en om die slegte lug uit te hou. Die snawel, dikwels gemaak uit brons, is bedoel om die lug te filtreer en is dikwels gevul met welriekende kruie en speserye of ’n spons deurweek met asyn om die dokter teen die besmetting te vrywaar.
Dis dan ook juis hierdie snawel wat aanleiding gegee het tot die foutiewe afleiding en spottery dat die dokters die siekte wou skrikmaak en verjaag met so ’n mondering.
Die kostuum het verder bestaan uit stewels, kamaste, ’n oorjas, handskoene en kopbedekking en dikwels ook ’n groot breërandhoed, alles gemaak uit leer asook ’n glasbril. Hierdie kostuums is hoofsaaklik gebruik in Frankryk en Italië en soms in Duitsland en Oostenryk.
Die dokters het gewoonlik ook ’n lang houtstok saam met hulle gedra sodat hulle nie naby pasiënte hoef te kom nie, maar hulle klere kan oplig om te sien of hulle die plaag het en selfs hulle polse te voel.
Ons glo nie meer dat miasmatiese lug ons kan siek maak nie, maar ons weet dat ons deur besoedelde, corona-besmette lugdruppels geaffekteer kan word of ander kan aansteek.
Sien, dra jou masker! Hou jou afstand! Daar is niks nuuts onder die son nie!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button