NewsNews

21 agter die grendels

21 agter die grendels

Verjaarsdae in grendelstatus is beslis ‘n uitdaging vir baie met idees sonder grense om op te maak vir wat jy nie nou kan kry nie.

Van waar en wat om vir ‘n presentjie te kry vir iemand spesiaal, tot hoe gemaak met die verjaardagkoek en die lekker bederf wat gewoonlik met ‘n verjaarsdag gepaard gaan.

Laat staan nog partytjie hou, kuier en uitgaan saam met vriende.

So moes baie ouers al kreatiewe planne maak.

Baie ma’s het self ingespring en van kolwyntjies tot verjaardagkoek gebak.

Dan was daar ook oulike planne gemaak soos die Bampa-gesin wat met handskoene die oulikste ballonne prakseer het, en video-boodskappies van maatjies, wat vir klein Kara vir vrolike kinderstemme  en kindergesiggies op die TV-skerm gesorg het vir ‘n amperse partytjie-kuier.

Maar hoe gemaak as daardie een GROOT verjaardag in ‘n leeftyd – jou 21ste, in grendeltyd val?

Celine Smith van Parys, wat tans soos baie ander studente aanlyn moet klas loop vir haar aktuariële studie aan die Pukke, het Woensdag haar 21ste tuis moes vier, “maar gegewe die omstandighede verseker ‘n dag wat ek sal koester vir die res van my lewe,” vertel sy.

Pa en Ma het haar vroegoggend wakker gemaak  saam met Zoey, haar hond, opgedress met ‘n rooi strikkie en klokkie om die nek.

Daarna is koffie gedrink en geskenke oopgemaak. Die bure (tannie Selma en tannie Sadie) het haar verras met twee groot baniere, linte, ballonne en vlaggies – alles tuisgemaak, wat hul aan die heining vasgemaak het (sonder om enige inperkingsregulasie te oortree).

Daar is koek geëet en selfs sjampanje gedrink – en ‘n glasie sjampanje geklink oor die muur met een van haar vriendinne.

‘n Braai, ‘n lang telefoongesprek met haar ouboet en sy vrou, en vele ander boodskappe en oproepe van heinde en ver het die dag ‘n 21st gemaak om te onthou – grendels of te nie!

Related Articles

Back to top button