NewsNews

Nood raak aan harte

Nood raak aan harte

“Waar begin mens om dankie te sê?” So het Jeanette Jacobs, die 2019 wenner van die Via-realiteitsreeks, “Ster-Status”, Maandag gesê nadat mense van oral oor hul harte oopgemaak het vir die geweldige nood van Parysenaars wat veral nou tydens die nasionale staat van inperking by die dag meer word.

Jeanette het hande gevat met finaliste van die reeks, Covid Flight en borge van sover as Bronkhorstspruit en Frankfort, om uit te reik met die Parys Food Drive vir skenkings van onder meer brood, mieliemeel, aartappels en groente wat Maandag hier aan die Red Ribbon voedselprojek en OCSA oorhandig is.

Van die borge het ingesluit Spar Bronkhorstspruit, Farmwise, Atomic Oil en We Cook, ‘n borg van Mahikeng, Master Power en soveel ander wat hul harte oopgemaak het vir die projek, insluitend 90.6 FM Stereo.

Jeanette saam met Martin van Spar Bronkhorstspruit. 

Jeanette en die span het die afgelope twee weke reeds 60 ton kos in totaal versprei en sou Brits hul volgende stop wees.
Die Red Ribbon gemeenskapsinisiatief het sedert die begin van die inperking uitgereik na mense in Parys in geweldige nood en is begin deur Lourens en Tania Janse van Rensburg van Wesleys Parys.

Die gedagte met die projek was dat mense ‘n rooi lint aan die heining voor hul huis kan vasmaak as daar voedsel benodig word, ‘n geel lint sou daar nood wees vir kos vir troeteldiere, en ‘n groen lint as jy voedsel het om vir die projek te skenk. Geen fisiese kontak – net die toeter wat geblaas word wanneer voedsel opgelaai, of voedsel afgegee word.
Talle hande het kom help om die projek te koördineer, sop te kook of selfs bababenodigdhede bymekaar te maak. Mense soos Sonja Hugo, Shaun, Wanda du Preez, Petro Serfontein, Marlize Willemse, Gerda Jones, Amelia Joubert van Zyl, CSS Sekuriteit, Charl Vosloo, Sonja Ferreira, Juandre Pretorius, Louw van Aard, Martin Oosthuizen, Werner van der Poll, Marietjie Olivier en Riaan Booysen.
Die sopprojek het uit die Red Ribbon-projek voortgevloei juis omdat die nood so groot en dringend geword het. Ook Opera-tion Compassion South Africa (OCSA) het saam met past. Broodryk en sy vrou, Theresa, by die projek betrokke geraak om uit te reik na hulle in nood.

Die organisasies sien tans om na die fisiese nood van meer as 840 mense in Parys vir wie daar soos wat skenkings ontvang word, gepoog word om twee weekliks kospakkies af te gee, en ook daagliks warm etes. Maar die nood word net groter, ook vir babas in Parys en Vredefort waarvoor daar tans ‘n groot nood is vir Lactogen 1, 2 en 3, Infacare, babadoeke 0-3 maande tot en met XL en baba badbenodigdhede asook dames toilet- en sanitêre ware.

Mense kan letterlik enigiets bydra, maar dit is veral blikkies nie-bederfbare voedsel, bone, vars groente, sopmengsel en pakkies sop, waarvoor daar groot nood is asook die bababenodigdhede. Selfs bakke om die sop te verpak. As jy wil bydra om die nood van ander te verlig, kan jy ’n elektroniese bydrae maak in die volgende bankrekening: OCSA, FNB, GOLD Business Account, 62806282456. Gebruik die woord ‘Voedingsprojek’ as verwysing en onthou dat jy as maatskappy kan vra vir ‘n Artikel 18 A kwitansie vir belastingdoeleindes. Jy kan ook met Marietjie kontak maak om te hoor hoe jy die Red Ribbon-projek kan help by 062 217 2404.

* Van die kerke in die dorp is ook besig om hulp te verleen waar nood is, en sal meer inligting oor hierdie projek ook in die Gazette deurgegee word. Jy kan intussen met die AGS Sion-gemeente of NG Parys-Oos-gemeente kontak maak .

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button