NewsNews

Sommige superhelde dra nie mantels nie, maar uniforms

Sommige superhelde dra nie mantels nie, maar uniforms

In die onstuimige tye waarin ons onsself tans bevind, word sterk klem gelê op die belangrike rol wat gesondheidsorgwerkers in ons samelewing speel.
Verpleegkundiges en vroedvroue is onder dié mense wat hulle lewens daaraan wy om vir moeders en kinders te sorg; om inentings en gesondheidsadvies te gee; na ouer mense om te sien; en om oor die algemeen in mense se daaglikse noodsaaklike gesondheidsbehoeftes te voorsien.

Met hulle tradisionele wit superheld-uniforms is hulle dikwels die eerste en enigste gesondheidsorgpunt in hulle gemeenskappe.
“Verpleegkundiges en vroedvroue is die ruggraat van elke gesondheidstelsel: in 2020 doen ons ’n beroep op alle lande om in verpleegkundiges en vroedvroue te belê as deel van hulle verbintenis tot gesondheid vir almal,” sê Tedros Adhanom Ghebreyesus, die direkteur-generaal van die WGO. Dit is waarom die WGO 2020 as die Internasionale Jaar van die Verpleegkundige en Vroedvrou aangewys het – ’n jaar lange poging om die werk van verpleegkundiges en vroedvroue te vier, die uitdagende toestande te beklemtoon wat hulle dikwels moet trotseer, en ’n toenemende belegging in die arbeidsmag van verpleegkundiges en vroedvroue te bepleit.
Die Noordwes-Universiteit se Skool vir Verpleegkunde het hulle oor die afgelope 52 jaar onverpoosd toegewy aan die verskaffing van opvoeding en opleiding van internasionale gehalte aan voorgraadse, na-basiese en nagraadse studente. Benewens die voorkoming, diagnosering en behandeling van siektes, en die verskaffing van kundige versorging tydens kindergeboorte, lewer verpleegkundiges en vroedvroue wat by die NWU opgelei is ook ’n diens aan mense wat in humanitêre noodgevalle en konflikte vasgevang is.

Te midde van die huidige Covid-19-pandemie het Annel Rudolph, ’n professionele verpleegkundige en alumna van die NWU se Skool vir Verpleegkunde, onlangs die volgende hartroerende en ietwat ontnugterende boodskap op sosiale media gedeel:
“Vanaand, vir die heel eerste keer in my hele verpleegloopbaan, lê ek in my bed en ek is bang! Ek is bang vir wat voorlê en vir die onbekende. Ek het nooit gedink dat ek in ’n tyd sal leef waar ek, soos Florence, my kersie sal moet aansteek en dit omhoog en aan die brand hou terwyl die helfte van die bevolking vir ’n dodelike gogga wegkruip nie. Oorlog, het ek gedink … ja. Miskien eendag wanneer ek oud is en my lampie weggebêre is, maar ’n virus?
“Die ergste van alles is dat die mensdom dit aan homself doen. Die mense luister nie. Vanselfsprekend nie, omdat hulle dit nie voel nie. Ek, ja, ek voel dit. My gesin voel dit. My man en my eenjarige kind. Ek sien dit. Ek sien die angs in die oë van my kollegas en by mense wat nie kan wegkruip nie. Die mense verstaan nie hoe hulle veroorsaak dat hierdie oorlog moeiliker is om te wen nie. Dus hoop ek dat die persoon wat hierdie stuk vanaand lees, dit sal begin voel en dan sal luister.

“Luister as hulle vir jou sê om tuis te bly. Moenie uitgaan tensy dit ’n noodgeval is nie. Moenie die reëls verontagsaam nie. Dit is met reg daar. Dit is ’n lang tyd, maar dink net hoe dit gaan voel as ons nie hierdie oorlog wen nie. Dink hoe lank dit vir ons gaan wees wat daar buite is, ons wat nie kan wegkruip nie. Die enigste manier om te wen, is om ons koppe te gebruik en te luister.
“Mag God elkeen van julle seën en ook met my kollegas en die noodsaaklike werkers wees in die tyd wat voorlê. Maak tannie Florence trots op julle. Ek plaas al my vertroue en hoop in God se hande en ek het die volle wapenrusting van God aangetrek.”
Uit hierdie boodskap is dit duidelik dat ’n loopbaan in die gesondheidsektor nie ’n beroep is nie, dit is eerder ’n roeping. Prof. Siedine Coetzee, ’n passievolle navorser by die NWU se Skool vir Verpleegkunde, sê dat die rede waarom sy ’n verpleegkundige geword het, baie persoonlik is.

“My ouma was onverwags sterwend in Suid-Afrika (ons was in Namibië), en ’n verpleegkundige het die besluit geneem om ons in te lig dat sy naby aan haar einde was, en aan ons die geleentheid gegee om haar te groet. Sy het die foon by my ouma se oor gehou en ons agterna vertel dat my ouma op ons boodskappe gereageer en rustiger geraak het. Sy is daardie aand oorlede. As gevolg van daardie ervaring het ek besluit om ’n verpleegkundige te word,” sê prof. Coetzee.
Prof. Welma Lubbe, ’n medeprofessor by die NWU, wat bekend is vir haar navorsing en werk in verloskunde en voortydige geboortes, sê dat sy met verpleging begin het terwyl sy gewag het om vir ’n ander gesondheidsorgberoep aanvaar te word. “En toe het ek net op verloskunde verlief geraak en besef dat verpleegkundiges die meeste van die aktiwiteite verrig wat ander professionele persone doen, maar dat hulle diegene is wat saans en oor naweke langs die pasiënt se bed is. Verpleging het deel van my geword, en vandag is ek ’n passievolle vroedvrou en verpleegkundige met ’n diepe liefde vir voortydige babatjies en hulle gesinne.”

 

Related Articles

Back to top button