NewsNews

NWU ingenieurs maak gesigskerms vir gesondheidswerkers

NWU ingenieurs maak gesigskerms vir gesondheidswerkers

‘n Span ingenieurs van die Noordwes-Universiteit (NWU) werk tans saam om gesondheidswerkers ekstra veilig te maak met gesigskerms wat hulle met behulp van 3D-drukkers vervaardig.

Dié maskers beskerm werkers se nek en hele gesig teen die Covid-19 virus. “Om ekstra veilig te wees, moet gesondheidswerkers die gewone materiaal maskers steeds saam met die gesigskerm dra,” sê CP Kloppers, ‘n dosent aan die Skool vir Meganiese Ingenieurswese aan die NWU.

‘n Paramedikus, Jaco Jansen van Vuuren, met een van die gesigskerms.

“Ons het tendense in ander lande soos Italië wat swaar onder die virus gebuk gegaan het, dopgehou. Gesigskerms word met behulp van 3D-tegnologie in Gauteng vervaardig, maar is nog nie in die Noordwes so maklik beskikbaar nie, daarom het ons besluit om ook ons deel hier by te dra,” sê Kloppers.

Hy vertel dat ‘n wye groep mense van ingenieurswese by die projek betrokke is. “Die projek word gehuisves by die fakulteit ingenieurswese en almal maak ‘n bydrae – vanaf ons dekaan, prof. Liezl van Dyk, wat befondsing moontlik gemaak het tot ons tegniese personeel by die Skool van Meganiese Ingenieurswese, Adri Benade en Bartlo van der Merwe, wat fisies help met die vervaardiging. Leenta Grobler van die Skool vir Elektriese Ingenieurswese help weer met die verspreiding van die skerms en om die aanvraag vanuit die gemeenskap te bestuur.”

Hoewel die skerms spesiaal vir gesondheidswerkers – onder meer dokters, verpleegpersoneel, aptekers, paramedici en veeartse – in Potchefstroom vervaardig word, het hulle ook al aan mediese personeel van Heilbron, Klerksdorp en Carletonville skerms verskaf. “Ons het kontakpersone by elke instansie en laai die skerms by hulle huise af om te verseker dat daar minimum kontak is,” sê Klopper.

Die ingenieurs maak gebruik van 3D-drukkers met PLA- of PETG-filament om die raam van die skerm te druk. Hulle het ‘n span van amper tien 3D-drukkers wat ongeveer 18 ure per dag werk om dit so vinnig as moontlik te kan produseer. Hulle sny ook self die skerms uit 0.5mm deursigtige PETG-velle met hul lasertoerusting. Die knippies word ook sommer uit die laagvervaardigingproses vervaardig sodat hulle nie enige ander toerusting nodig het nie. Die enigste ander materiaal wat gebruik word, is gewone rekkies wat mens in elke kantoor sou aantref.

Om ‘n raam op die 3D-drukkers te druk, neem ongeveer drie ure per raam. In die tyd wat die drukker besig is, sny hulle die groot PERG-velle tot op die finale vorm met die lasermasjien kleiner. Sodra die drukkers klaar is, word al die dele aanmekaar vasgesit en begin die proses weer van voor af.

Daar word gemiddeld 30 skerms per dag vervaardig. Drie ingenieurs werk in skofte sodat hulle die kontak tussen personeel beperk. Hulle roteer en maak seker die proses staan nooit stil nie. Daar is verskeie mense in die stad wat ook 3D-drukkers besit en help as vrywilligers om ekstra rame te druk en so die produksie te vermeerder.

“Die gesigskerms word gratis aan almal verskaf, maar indien daar mense is wat aan hierdie projek geld wil skenk, gaan die ingenieursdepartement dit nie wegwys nie, want dan kan ons meer materiaal koop om meer gesigskerms te vervaardig. Ons maak geen wins uit hierdie projek nie. Dit is ‘n liefdadigheidsprojek vir ons gemeenskap,” sê Kloppers.

Gesondheidswerkers wat gesigskerms wil bestel, kan Vanda Pretorius by (018) 299 1972 gedurende kantoorure skakel of  ‘n e-pos na Vanda.Pretorius@nwu.ac.za stuur.

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button