News

‘Maatskaplike werk ’n roeping’

‘Maatskaplike werk ’n roeping’

Willien Diedericks, maatskaplike werker by Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se Parys en Vredefort kantore het tydens VVA se 30ste kongres die eer te beurt geval om met die Gerda Botha Prestasie Toekenning vir 2020, beloon te word.
Die wenner van dié toekenning vir ‘n maatskaplike werker word jaarliks deur een van die oud-direkteure aangewys en deur die VVA toegeken.

Die kriteria vir die Gerda Botha Prestasie Toekenning sentreer rondom volgehoue prestasie, meer as wat normaalweg van professionele maatskaplike werkers verwag word. Bestuursvaardighede, leierskap en waardes moet só uitgebou word dat die beeld van die professie, asook van die organisasie daarby baat.

Sover bekend is dit die eerste keer dat ‘n maatskaplike werker van Parys en Vredefort die toekenning ontvang.
Willien is op 1 Junie 2007 by VVA Parys aangestel met die opdrag dat sy ook ‘n diens in Vredefort moet lewer.
Veral in Vredefort was die uitdagings vir maatskaplike dienste groot. Willien was in staat om sonder veel fondse en vrywillige hande die bedryfstekort in Vredefort aan te vul.

So is verskeie projekte geloods deur kreatiewe beplanning en toewyding vir onder meer die verskuiwing van die kantoor sodat die vorige kantoor verhuur kon word, ‘n groot tweedehandse klerewinkel wat op die been gebring is, die sop-en-broodjie projek, skilderklasse, kosdemonstrasies, bejaarde Sotho-sprekende vroue wat geleer word om te lees, naaldwerkopleiding, berading deur ‘n derdejaar-sielkunde student, ouerskapsplanne en nuwe idees met speelgroepe.
Willien werk ook in Parys waar sy die afgelope twee jaar die kantoorhoof van een van VVA se grootste maatskaplike werk kantore is met ‘n eie moeilike dinamika.

Haar poslading in Parys is baie divers ten opsigte van kultuurverskeidenheid en heelwat sake met regsimplikasies.
Dit is juis op regsgebied waar sy haar onderskei in die kwaliteit wetenskaplike verslae wat sy indien om die uitspraak vir die voorsittende beampte makliker te maak.
Sy ontvang ook erkenning van rolspelers soos skole, wat bereid is om die voorkomingsprogram vir ouers met probleemgedrag-kinders (ontwikkel deur die VVA), te implementeer.
Dan lewer sy ook nog ‘n bydrae vir studente opleiding. Sy het ‘n maatskaplike werk student van Potchefstroom vir ‘n jaar praktiese ondervinding geakkommodeer.

Haar eie groei en ontwikkeling is ook vir haar belangrik. Sy woon kursusse by wat kan bydra tot haar toerusting as maatskaplike werker.
So het sy die geleentheid aangegryp om deur die NWU ‘n beurs te ontvang om ‘n kursus in Christelike berading vir getraumatiseerde volwassenes te doen. Dit help wanneer sy met moeilike voorkomingsdienste gekonfronteer word, sê Willien
Vir Willien is maatskaplike werk nie net ‘n beroep nie, maar ‘n roeping wat uit haar diep Christelike oortuiging spruit. Oor die toekenning sê sy dat dit die kroon span op 13 jaar se betrokkenheid as maatskaplike werker in Parys en Vredefort.
VVA-direkteur, Darien Oosthuizen, het die toekenning aan Willien oorhandig. Darien is self ook ‘n Parysenaar in murg en been en sal aan die einde van die maand aftree en haar in Parys vestig.

Dr. Gustav Gous het tydens die kongres, in die lig van die huidige Covid-19 vrese, gesels oor die tema, “Gebruik ‘n krisis en skep saam die grootste moontlike mate van heelheid wat binne ‘n gegewe stituasie moontlik is.”

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button